Bring en braai
Hester Steenkamp – Tydens ’n Kaapkuier by my suster-hulle word ons genooi vir ’n braai deur aangetroude familie van haar. ’n Bring en braai.
Ons het reeds die mense geken en het al op vorige geleenthede baie lekker saam met hulle gekuier. Hulle is onse soort van mense, en ons het uitgesien na die aand. Ons het dadelik ’n lekker Namibiese skaaprib en tjops gaan uithaal vir saamvat.
Die aand was vol gesels, lag en stories. Die gasvrou, Riana, het ons bederf met kaasborde en eetgoed wat ons vroegaand om die swembad geniet het. Toe dit begin donker raak, is ons binnetoe waar ons in die ruim eetkamer verder gekuier het.
Die manne het om die huiskroeg se toonbank saamgebondel en daar vasgehaak en rare, ingevoerde en duur whiskeys en brandewyne geproe. Intussen het Riana ’n lieflike tafel gedek met heerlike slaaie en bykosse en ons vrouens het solank begin naderstaan vir opskep.
Ons was geensins van plan om vir die mans te wag tot hulle klaar hulle opinies oor elke bottel gegee het nie. Ervaring het ons mos al geleer dat hulle vreeslik slim raak hoe langer die proeëry aanhou en hulle het nog bankvas by die kroegtoonbank in die braaikamer gesit.
Ons is al ontelbare kere na braaie genooi, maar nog nooit na ’n bring en braai nie. Met dié dat ek nie die etiket van so ’n braai ken nie, het ek my suster eenkant toe geroep en gevra hoe werk die etery? Eet jy net waarvan jy gebring het, of kan jy van die ander mense se vleis ook eet?
Ek het my oog op die varktjoppies gehad wat in een van die bakke gelê het. Sy het verduidelik dat ek van enige iets kan eet en toe ek opskep, sê ek: “Oeeee, hierdie varkie gaan nou lekker smaak!”
Riana het my gehoor, en gesê: “O nee, dis nie varktjops daardie nie. Dis skaaptjops van ons plaaslike slaghuis, maar kry gerus vir jou!”
Ek het dit ernstig betwyfel, want die kleur en tekstuur was pure vark, maar aangesien sy dit gekoop het, sou sy seker weet.
En toe onthou ek my dogter se woorde net nadat sy by Hoërskool Stellenbosch begin het. Ons het gevra of sy goed aanpas in die skool en koshuis, toe sê sy: “Ja, dis baie lekker hier. Dis net die vleis wat vreemd is. In Namibië is die vleis pienk en die polonie vaal, maar hier is die vleis vaal en die polonie pienk!”
Ek het aanvaar dis nou daardie vaal vleis wat my hier in die oog staar. Ek het dit in elk geval ingeskep en dit was heerlik, maar al slaan jy my dood, sou ek nie kon sê of dit vark of skaap was nie.
Ek het weer vir Riana gevra of sy seker is dis skaapvleis, en sy het volgehou dat daar nie vark op die spyskaart is nie. Ek wou seker maak voor ek die murgie uitgrawe vir poeding, want my ouma het altyd gesê as jy varkmurg eet, sal jy die wind sien waai. Ek het die murg toe maar laat staan. Wou nie die kans waag nie.
Die manne het toe uiteindelik ook by ons aangesluit en later, nadat ons die aand afgesluit het met sterk koffie, het ons soos dikgevrete aasvoëls opgestyg om terug te keer huis toe.
Dit was Covid-tyd en ons moes soos stout tieners voor ’n sekere tyd tuis wees. Ons het hulle met ’n traan in die oog gegroet, en oor en weer belowe dat ons gou weer so sal maak.
Op pad terug huis toe, deur ongekende stil en verlate strate, gee Johnnie, my liewe man, ’n behaaglike sug vanaf die passasiersitplek – waarheen hy verban is oor al die geproe – en sê: “Goeiste, ek is nou ongemaklik versadig. Die kos was wragtag lekker. Het julle ook van die varktjops geëet?”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie