No Image Caption

Bybelse wysheid

Sanet Pearson
DR. ANNES NEL

Psalm 127:1: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.”

Hoekom moet God ’n stad beskerm as daar goeie alarms en sekuriteitsmaatskappye is? Mediese wetenskap maak dit vir kinderlose mense moontlik om kinders te hê deur baie gesofistikeerde maniere. Hoekom sal ons kinders steeds as geskenke beskou? Daar is huweliksberaders en sielkundiges om ’n verbrokkelde gesinslewe en huwelik te herstel. Hoekom sal ons dan nog sê dat die Here die huis moet bou?

Ja, dit klink dalk eenvoudig, maar dit is nie. Ten spyte van al ons moderne manier kom geweld, egskeidings en kinderloosheid steeds voor. Ten spyte van al ons harde werk en briljante mediese en tegnologiese vooruitgang, is daar steeds stukkende mense en dinge in hierdie wêreld. Trouens, miskien was die wêreld nog nooit stukkender as nou nie.

Die digter maak een punt: Ons swoeg en sweet, ons pogings en bekommernisse kan geen permanente sorg en genesing bring nie. As die Here nie by elke dag se klein kommer betrokke is nie, is alles verniet.

Die Psalmdigter het hierdie wysheid geleer: daar sal altyd 'n basiese onsekerheid wees sonder God. Dis soos Jesus sê: Sonder My kan julle niks doen nie (Joh. 15:5).

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer