No Image Caption

Bybelse wysheid

Sanet Pearson
DR. ANNES NEL

Efesiërs 1:4: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”

Viktor Frankl het vertel van ’n Nazi-offisier by Auschwitz wat mense lukraak geskei het. Een groep het na die gaskamers gegaan, terwyl ’n ander groep gespaar is. Sommige mense dink God is soos daardie offisier. Sommige dink daar is een of ander ewige plan waarin sommige gekies is en ander verwerp is. Jy hoor net van jou klassifikasie. Dit is fatalisme, nie genade nie.

Is dit hoe God is? Nee! Efesiërs 1:3-14 is net een sin in die oorspronklike Griekse teks. Dit is soos ’n lang lied oor een van die mooiste dinge van God! Hy het ons in Christus gekies! Baie geleerdes soos Ridderbos het daarop gewys dat die uitdrukking “voordat die wêreld geskep is” niks met tyd te doen het nie. Paulus bedoel nie om te sê dat ’n besluit wat die oorsaak van alles is eens geneem is nie. Hy wil eerder sê: God se genade is die fondament vir ons verlossing (sien ook 2 Tim 1:9)

God se verkiesing is nie ’n ander plan naas die verlossing deur die bloed van Jesus Christus nie. Dit sou beteken dat God twee afsonderlike verlossingsplanne vir ons het. Nee, verkiesing is net ’n ander woord wat die Bybel gebruik om te beklemtoon dat ons verlossing genade is alleen. Ons is God se kinders! Laat ons daaroor sing, nie bekommerd wees nie!

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer