No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Mat 16:21: “Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly... doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.”

“U is die Messias!” Petrus se teologiese insig was indrukwekkend. Tog het hy nie verstaan wat hy sê nie. Hy het menslik oor Jesus gedink. Die Evangelies beklemtoon gereeld dat die dissipels die ware identiteit van Jesus nie verstaan het nie. ’n Mens kan dit verstaan. Hoekom sou ’n magtige Verlosser, in staat om hulle van Romeinse onderdrukking te bevry, van sy naderende dood praat? Petrus neem Jesus daarom eenkant toe om hom te berispe.

Hoe sou jy gereageer het? Jesus het jou pas verseker dat jou belydenis ’n rots vir die kerk sal wees.

Hierdie oomblik in die evangelie is ’n belangrike keerpunt. Teenstand teen Jesus verskerp. Die Verlosser sal ’n gekruisigde Here word. Eerder as om lewens te neem, sal hy sy eie prysgee. In plaas daarvan om oorlog te voer, sal hy vir sy vyande bid. Eerder as om geweld aan te blaas, sal hy mense genees.

Jy wil dalk ’n kragtiger Verlosser hê, maar Hy voldoen nie aan ons verwagtinge nie. Paulus bevestig dat Jesus nie die wonderwerker of wyse Jesus is wat die Jode en Grieke gesoek het nie (1 Korintiërs 1:18-31). Hy is die gekruisigde, die lydende dienaar van die Here.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer