No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Mat 22:36: “Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

As jy Jesus was, hoe sou jy geantwoord het? Ons weet vandag wat Hy gesê het. Jesus praat van onbaatsugtige liefde. Dit is interessant waar Matteus hierdie gesprek plaas. Die dissipels en godsdiensleiers word deur die verkeerde oorwegings gemotiveer.

In Matteus 20 soek die dissipels mag en besef nie dat Jesus diensknegte, nie magtiges wou hê nie. In Matteus 21 word Jesus soos ’n held in Jerusalem ontvang omdat Hy ’n magsfiguur vir die mense was, nie oor wie Hy werklik was nie. Jesus praat daarom dan oor God se sorg en hoe mense God se woord deur die eeue verag het. Matteus 22 beskryf hoe die godsdienstige leiers God se Seun teëgestaan het. Die leiers se teologiese vrae was nie daarop gemik om van God te leer nie, maar om Jesus vas te trek.

Die Here se gebod is eenvoudig en direk: liefde. Vrae lyk dalk vroom, maar vermy soms die kern van die saak. Jesus boor tot in die kern van die saak. God se wet gaan oor liefde. Liefde wil die beste vir die ander hê. Hierdie liefde kontrasteer skynheiligheid en magsug. Jesus demonstreer deur sy lewe dat liefde die prysgee van mag vereis. Deur sy lewe uit liefde af te lê, stel Jesus ons in staat om genade en diens aan mekaar te beoefen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer