Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Matteus 10:34: "Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.

Is dit ’n profesie wat nou vervul word? Swaarde en oorloë is oral. Nee. Jesus is nie ’n vryheidsvegter nie. Hierdie praat oor liefde vir Jesus. Die beroemde Martin Luther King het gesê: ‘As iemand nie iets ontdek het waarvoor hy sal sterf nie, is hy nie geskik om te lewe nie.’

Enigeen wat vir Jesus sterf, sal lewe vind. Jesus se volgelinge sê nie altyd wat die wêreld wil hoor nie. Daar sal konflik wees. Soms moet ons opstaan teen ons familie wanneer sy saak op die spel is. Vrede beteken meer as om net mooi dinge te sê of stil te bly ter wille van vrede. Jesus sê dat sy volgelinge moeilike tye in die wêreld sal hê. Hulle sal voor regerings gebring word en selfs deur hulle familielede beskuldig word (10:16-25).

Christene volg Jesus al vra Hy jou lewe. Ons kan nie kies om nie dit te doen nie. God gaan ’n nuwe hemel en aarde maak waar sy vrede sal heers. Ons is deel van hierdie plan. Tog moet ons verstaan dat dit probleme kan veroorsaak as ons die Vredevors volkome en onvoorwaardelik liefhet. Matteus noem hierdie getrouheid en liefde ’n rein hart (6:19-24). Dit is mense wat 'n skat in die hemel het.

Here, maak my asseblief lojaal aan U, al beteken dit om alles op te offer. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer