No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Habakuk 2:20: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!”



Wanneer jy in God glo en dinge verloop nie altyd soos beplan nie, kan jy dit dalk self probeer uitsorteer. Afgodery is nie die maak en aanbidding van beelde nie. Dit is wanneer ons plaasvervangers vir God vind. As God nie genoeg help nie, begin ons staatmaak op geld, besittings en ander dinge. Dit is alles dooie afgode! Ons moet hulle lewe gee.

Ons Here leef! Hy vul die aarde met sy teenwoordigheid. Almal moet voor Hom buig. Hy praat met ons en gryp in ons lewens in. Die afgode is niks en kan niks doen nie.

Habakuk 2 is God se reaksie op Habakuk se tweede klag. Dit is gerig teen afgodediens. Die Here se mense het ook vir die afgode geval.

Die Gees leer ons om die dinge daarbo te soek, nie wat op aarde is nie (Kolossense 3:1-4). Wanneer die Gees ons lewens vul, kan ons nie afgode dien nie. Ons is tempels van die Heilige Gees, sê Paulus. Hy woon in ons! Ons is onder nuwe bestuur. Ons soek nie hulp of krag by iemand anders as God nie. Ons wat in moeilike tye op Hom vertrou en nie ons hart op dooie afgode verloor nie, sal ontdek dat dit die moeite werd is om op Hom te vertrou.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer