No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 20:8: “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.”



Mense soos Abraham, Isak en Jakob het nie hierdie gebod geken nie, maar later het hierdie dag ’n unieke plek in Israel se geskiedenis ingeneem. Vroeg in hulle geskiedenis is die volk verbied om manna op die sewende dag van die week op te tel (Eks 16:23–30). Ferdinand Deist merk op: “Een dag van die week eet hulle sonder om te werk sodat hulle herinner word dat God die Een is wat sorg en hulle nie té selfstandig moet voel nie.”

Nehemia het gedreig om mense te arresteer as hulle op die Sabbat die stad sou binnegaan om goedere te verkoop (Neh 13). Die Sabbat het hulle daaglikse roetine onderbreek – dit was ’n breek van die “business as usual”.

Waarom moes hulle dit doen? Moes hulle net rus? Nee, die Sabbat was ’n spesiale dag wat aan die Here behoort het. Dit was “die sabbat van die Here jou God” (Eks 20:10), soos “die Here jou God jou beveel het” (Deut 5:12).

Dit was ’n dag vir regte prioriteite, ’n dag wat afgesonder moes word van die ander dae. Dit moes gebruik word vir die regte doel, aangesien “die Here dit as ’n gereelde rusdag geheilig het” (Eks 20:11).

Die Here ken ons en weet dat ons Hom soms vergeet. Die Sabbat help ons om Hom te gehoorsaam en tyd vir Hom te maak. Hy het ons immers vry gemaak!



Here, leer my om aan U gehoorsaam te wees. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer