No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 20:13: “Jy mag nie moord pleeg nie.”



Omdat Jesus ons vrygemaak het, het geweld – hetsy deur brutale dade, etikettering of skadelike woorde en gesindhede – geen plek in ons lewens nie. Dit is in stryd met Christelike waardes.

Die sesde gebod gaan verder as die fisiese daad van moord. Kyk na die verhaal van Kain en Abel in Genesis 4. Hulle aanbid saam en bring offergawes aan God. Een offer word aanvaar en die ander nie. God het nie Kain se gawe heeltemal verwerp nie. Kain se hart was ver van God af. God gee in sy liefde vir Kain ’n geleentheid om dinge reg te stel. Hy waarsku hom om versigtig te wees. Die duiwel wil hom op ’n dwaalspoor lei.

Kain hoor God se woorde tydens aanbidding, maar kies uiteindelik om dit te ignoreer. Na ’n persoonlike ontmoeting met God, stap hy weg en vermoor sy broer.

Ons broers en susters rondom ons kan dikwels slagoffers word van ons keuses teen God. Die gebod teen moord behels meer as net fisiese geweld. Dit sluit die onsigbare skade in wat ons deur woorde en beledigings aanrig. Wanneer ons mense nie respekteer nie, haat koester of skinder, pleeg ons dade van geestelike moord.

Die roekelose behandeling van ander, verslawing en bespotting word in hierdie gebod verbied. Elke keer as ons versuim om ander se lewens te respekteer en te beskerm, kies ons ’n pad van dood.

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer