No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 20:13: “Jy mag nie moord pleeg nie.”



Jesus praat oor hierdie gebod. Hy dui die wortel daarvan aan: ons harte (Matteus 5:21-22). Moord begin nie met dade nie, maar met gesindhede en woorde. Jakobus eggo dit in sy brief. Hy waarsku dat ons ons tonge kan gebruik om mense wat na God se beeld gemaak is skade aan te doen (Jakobus 3). ’n Ou Christelike geskrif som die sesde gebod op, “Deur moord te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan verafsku, soos afguns, haat, woede en wraak. Dit alles is geheime moorde in sy oë.”

Al is dit natuurlik om kwaad te word, het ons die keuse om God se wil bo kwaad te kies.

Jesus beklemtoon dat selfs woede teenoor ’n medemens deur God veroordeel word. Soos met Kain, begin alles met ’n gesindheid. As jy wraakwoorde kan sê, kan jy wraak neem. Dit is slegs deur God se genade dat jy die versoeking kan weerstaan om op te tree.

Elke dag berig die media oor fisieke moorde, maar die ontelbare emosionele “moorde” binne gesinne, skole, werkplekke en kerke wat plaasvind deur skadelike woorde en houdings, haal nie die nuus nie. Hierdie gebod spreek opsetlike, met voorbedagte rade moord aan. Dit begin in die hart en word deur gesindhede gedryf. Dis waar dit alles begin.

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer