Charlotte
Charlotte

Charlotte sê maar net

Tussen êrens en nêrens
Dit was aand en dit was môre, die hoeveelste dag?

Nee, nie dag nie, maar eeue, ver verby A.D.!

En sowaar soos padda (steeds) manel dra, brand ek om te weet waar is ELDERS.

Klink vir my na “tussen iewers en nerens” lê “elders”, die stiefkind van die weerburo.

Kom ek begin by die begin van “elders”: Ons het opgegroot met net die blote NBC TV en Springbok Radio vir ons musiek.

Daarom weet ons van tafelhoogte ouderdom dat die weermeneertjie ’n baie slim man is. Ja, ’n ordentlike man want hy moes selfs ’n das dra vir sy belangrike werk en ’n man met ’n das was geleerd én geëerd in onse tyd. Ons moes in respekvolle stilte na die nuusbulletin luister, gevolg met die weervoorspelling.

Net die term “voorspelling” het agting afgedwing, want dis dan amper ’n towerkuns.

Ek staan nou met een voet in die graf, die ander op ’n piesangskil en weet STEEDS nie waar “ELDERS” is.

En hoekom lyk dit my niemand is “geworry” oor die blatante geheimsinnigheid?

Ons het liewer grappe gemaak oor die een weermeneer wat “patie kloutie” gesê het in plaas van “ partly cloudy”. O ja, en amper vergeet ek van “fôk petsis” (fog patches).

Wat as ek as avontuurlustige per ongeluk by “elders” beland sonder ’n reënjas. Die hele wêreld is nou blootgestel aan buitengewone weersomstandighede. Ons moet vir “elders” fire! Dis ’n groot risiko.

Ons is mos nou afhanklik van madam GPS en ek wonder maar net of die belangrike arrogante girl in kennis gestel is aangaande “elders”.

Verbeel jou die familie is op ’n heerlike “road trip” as blaaskans na “elders” en die girl kondig aan “unfortunately we cannot locate your destination”.

Daarsy! Slimste juffrou ook in die duister, vasgevang tussen iewers en nêrens.

So wil ek graag verstaan hoe word elke streek duidelik met sy weerstoestande bekendgemaak, en skielik... “elders”. Kan die weermeneer dan liewer nie oor koeitjies en kalfies in die droogte of reën praat en vir “elders” skrap!

Wat is so geheimsinnig oor “elders”? Ons weet dan van die verlore skepe en vliegtuie ingesluk deur die Bermuda Triangle. ’n Konsep wat almal seker al ken, hoe misterieus dit ook al is, maar ons weet waar die ‘towerdriehoek’ is.

Ek kyk leepoog na Namibië se weervoorspelling en smag na die nattigheid hier êrens oorkant die grens. Riviere wat in bruin masses marathon. Ook dié gaan eindig iewers in ’n groot dam. Maar nêrens het ek al gehoor dat ’n rivier “elders” eindig nie. Swakoppoortdam se waters loop hul paadjie gedienstig elke keer see toe.

Sal ons ooit in des lewens ’n spreekbeurt hê met die slim weermense of het hy/sy ’n gelofte afgelê om nimmer nooit vir “elders” bekend te maak nie? Klink na die Da Vinci- kode.

Of is hulle altemit ook in die duister waar die geheime plekkie is?

Sal ek maar my nuuskierigheid verder vat op ’n filosofiese skrywersrit om weermeneer sy eie medisyne te laat proe? Dit sal so klink: “Iewers elders in ’n buitekamer buite die Universe...”

Ongetwyfel die hoogtepunt van “elders”.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer