Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Daai groenrokvrou

Charlotte Beukes-Muundjua
Vrydagmiddag, ’n skroeiende dag in die suide. Smaak skoon die son het kooi gemaak in die digte sand.

Sonbiesies gil luidkeels; is hulle hoeka son-aanbidders? Sou wat wou gee om die klein stront met so ’n raasbek te sien.

Antie Magriet, nog met beker geel kruisement tee in een hand en deeg in ander, kyk deur die kombuisvenster. Die ouvrou snak na haar asem: “Ai troue Heiland, dis mos Kerneels wat doer sit-lê-aankom.”

Sy trek haar oë nouer vir beter korrel.

“So by my kool, dis die jong, en hy is so-by-so aangeklam. Hy dwaal skoon van dronkgeit. Seker weer gesub vir my ergernis! Die Here moet vir Van Wyk Bouers behoede, hulle weet dan die Basterseuns is hand-om-die-nek met die wynbottel. Maar dis mos die ryk-wees en ryker-word plan.”

Die einste Van Wyk is mos bottelstooreienaar, so draai sy sente net weer terug na hom. Wou al met voorskoot en al na sy plek toe loop en vra dat hy ten minste ’n swakker wyn aan Kerneels verkoop; sommer lieg dat Monis Granada skielik “onwettig” is.

Glo my, my Christenskap staan gat-om-kop oor die lewenspatroon. Daai groenrokvrou word aanbid, sy wals weer tot ounag van hoek tot kant deur my huis.”

Antie Magriet, een van menigte ongeskoolde huisvrouens in die Baster-gemeenskap, het haar knieë in eelte gebid, want eers was dit die pa met dieselfde ooraktiewe wynkliere tot sy wynliefde elke orgaan bloots opgevreet het.

Toe volg die seun. Hoe ontketting mens ’n euwel met so ’n penwortel? Dis mos nie vandag en gister se kastyding nie. “Jesus, kom net. Ek’s opgesukkel, ek het ’n leeftyd se trane uitgeput!”

Antie Magriet skarrel soos ’n Doom-besope kakkerlak. Sy moet haar klein wêreldjie beskerm: eerstens vinnig haar deegskottel uit die pad kry, want die Ellerines kombuistafel se pote gee skielik pad met die geringste stamp.

En sy weet hier kom een groot skermutseling van een maer dronk mannetjie. Dan batterye wegsteek, want so het hulle geld vir suip, maar mors batterye pap. Hoekom hoeka so rumoer oor rugby, jaag sy bloeddruk op oor mense wat hy nog nie met ’n skeel oog gesien het.

Radioverhale is haar enigste troos, so ’n battery is haar diamant!

Dan haar laaste twee Grandpa-poeiers sommer in die bra bêre, want môreoggend tamboer die hele Namibië weermag se orkes in sy kop met ’n hartseer gesig soos ’n gebreekte windpomp.

Laastens twee stukkies boerewors in die kamer wegsteek vir môreoggend, ’n luukse vir haar en haar enigste mater, Marie die kat.

En soos die ou draadhek skree van Kerneels se oop boender, neem Antie Magriet salig haar sitplek in, want sy ken die dril met die groenrokvrou.

Kos is klaar uitgeskep, sy probeer ’n sinnelose dialoog vermy. Sy lewe in elk geval al jare in monoloog. Net Marie kat luister geduldig sonder vrae of teëpraat.

“Middag ma, ek’s vrekhonger, waar is my kos? Van Wyk het ietsie gegee vir twak en kos, hier is ’n N$100.”

“N$100 se hele hol,” dink antie Magriet. Ken jy ooit die prys van ’n skamele brood.

Sy neurie in haar kop “Jesus, Jesus soete vrind”. Sy sal mos nie haar bloeddruk verder opjaag oor ’n boom wat heeltemal skeef gegroei het nie. Sy is ’n lywige kalmte met laaste bietjie teetjies, want kort voor lank is dapper dronkie se vuurtjie geblus. Tiep is sy voorland.

En nes hy sy effense lyf op die sponsmatras op die veranda neergooi, begin die dronk snork.

Wat is die slaap? Sowaar ’n soete ding; en ’n groenrokvrou se slaap ’n stroopsoet ding sowaar.

Laat daar rus wees. En daar was hemelse rus.

Antie Magriet se brooddeeg is lekker uitgerys en sy drink die tydelike vrede gulsig in.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer