No Image Caption

Daar is nog dapperes

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gene Travers – Ondervinding het my geleer dapper mense kan nie gemaak word nie. Hulle word gebore.

’n Man kan honderde karate-, Kung Fu- en Ninja Turtle-kursusse loop om homself met swart gordels te behang. Hy kan sy spiere ontwikkel totdat dit by die nate van sy klere uitbars of jy kan hom in die vegkuns oplei totdat hy Rambo na ’n kleutertjie laat lyk, maar dan is hy nog nie noodwendig ’n dapper persoon nie. ’n Dapper persoon kry jy in enige loop van die lewe en soms is dit ’n persoon van wie jy dit die minste verwag.

Die klerk wat jou oor die banktoonbank bedien of die man wat die straat vee kan jou dalk eendag verras met ’n dapper daad wat jy nooit van hom verwag het nie.

Dit kan die ou omie wees wat elke dag met sy hondjie in jou omgewing wandel wat op ’n dag by ’n brandende huis instorm om ’n kind se lewe te red. Dit kan die moeder wees wat ’n verwoede hond stormloop om haar kind uit sy kake te red of die bode wat voor ’n voortsnellende huurmotor inspring om ’n medemens voor dié gevaarte se wiele weg te raap.

Windhoek se brandweermanne het my al by verskeie geleenthede beïndruk met hul dapperheid. Ek het al gesien hoe dié mense onverskrokke deur vlamme bars om mense se lewens te red sonder om ag op hul eie veiligheid te slaan.

Van die brandweermanne kan ’n mens dapperheid verwag. Van die eerste dag wat hulle by die brandweerafdeling aansluit weet hulle wat van hulle verwag kan word en die meeste van hulle voer dan ook hulle pligte soms onder gevaarlike omstandighede uit en hulle is ook deeglik opgelei vir die taak. Ek verwys hier na daardie mense wat geen opleiding gehad het nie en dan op ’n dag onder sekere omstandighede met dapperheid vorendag kom wat jou verbaas. Daardie persoon van wie jy dit nie verwag nie.

Dit was dus met groot verbasing dat ek voor die naweek ’n dapper streep in kollega Constant Smit ontdek wat ek nooit sou raai hy in hom het nie. Sover ek weet was die dapperste ding wat Constant nog in sy lewe gedoen het om slangetjies en leertjies in sy woonstel se sitkamer te speel en selfs toe het dit hom feitlik ’n hele bottel hardehout gekos om genoeg moed bymekaar te skraap en sy vrees vir die slangetjies op die speelbord te bowe te kom.

Constant kap verlede week hier uit die bloute in hierdie rubriek los en soek skoor met kollegas wat sy nek stomp op sy stuitjie sal afdraai. Ek kan maar net aanvaar dat dit ’n roekelose oomblik van dapperheid was, want hy het hom die res van die naweek skaars gehou en baie laag gelê. Nou is ek ook nog nie seker of dit ’n dapper streep in Constant is wat na vore gekom het en of dit sommer net plein domastrantheid is nie.

Of miskien het hy ’n “Death Wish”. – 2 Junie 1993

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer