Leandrea Mouers
Leandrea Mouers

Dae soos die. . .

Leandrea mouers
Leandrea Mouers – Ek kyk rondom my en my oë skiet sommer vol trane. Daar is soveel dinge wat ’n mens sommer net moedeloos laat voel.

So baie dinge.

En dan dink ek terug.

Die laaste twee, drie jaar kan ek sonder twyfel sê was die uitdagendste tyd van my lewe.

Dit was uitdaging op uitdaging, probleem op probleem – en dit het net glad nie gelyk of daar ’n uitweg is nie.

Tot ek net op ’n dag besluit het ek gee op en loop weg van alles wat ek ken. “Ek is klaar.”

Nou ná alles, besef ek ek het myself nie toegelaat om te rus en net eenvoudig te voel nie.

Ons leef in ’n verskriklike gejaagde tyd – ons moet gedurig iewers wees!

Maar op wie se onkoste?

Dus, liewe leser, ek het geen idee watter uitdagings jou nou in die gesig staar nie, maar ek wil net vir jou sê dis oukei. Dis oukei om te huil, om kwaad te wees, om hartseer te wees, om moeg te wees!

Laat jouself toe om te voel. Moenie soos ek maak, wat alles opgebottel het nie, en die dag toe dit té veel raak, toe kon ek niks anders doen as om net in ’n bondeltjie op te krul en te sê: “Los my uit, ek gee op.”

Ek moet ook bysê dit was in hierdie tyd toe ek op my knieë beland het en geen ander plek gehad het as om op te kyk nie.

Die verhaal in die Bybel van die vrou wat 12 jaar lank met bloeding gesukkel het, in Lukas 8:43-48; sy was vasbeslote dat as sy net aan Jesus se soom van sy kleed kon raak, sy genees sou word. En dit was toe so.

Ek sien hierdie prentjie in my geestesoog, van die vrou wat op haar knieë moes val net om Jesus se soom van sy kleed aan te raak. Desperaat vir ’n antwoord, vir genesing. Desperaat om net raakgesien te word – in haar pyn en haar lyding. Op haar knieë, waar sy moes opkyk na die Een wat haar kon genees.

Daar was ’n hele paar keer wat ek ook só gevoel het, desperaat vir ’n antwoord, desperaat om net raakgesien te word. Desperaat om net ontslae te raak van die kwaad, die hartseer, om die fast-forward knoppie te druk na goeie dae, na die dae waar dit so maklik voel om te lag.

Maar dis nie so eenvoudig nie.

Want dit is die dae wat ons sterker maak; minder bang maak.

Dis die dae waarna ons kan terugkyk en kan sê “dit was moeilik, maar ek het sterker en beter aan die ander kant uitgekom.”

So ek sal weer eens klem daarop lê; laat jouself toe om te treur, laat jouself toe om kwaad te word, te huil, te skree, te rus.

Die wêreld sal aanhou draai, maar ons tydjie op hierdie aarde is so kort, en ek dink soms vergeet ons dat ons die geleentheid het om dinge anders te doen en die beste hiervan te maak.

Psalm 90 vers 12: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom.”

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!