Astrid O’Callaghan
Astrid O’Callaghan

Dames, laat jou hart asemhaal

As ek terugkyk na die afgelope maand was dit soms vir my uitdagend om my sprankel te vind te midde van al die chaos.

Ek onthou ’n Sondagmiddag in Dublin aan die begin van die maand – perfekte weer, ’n drafsessie langs die Ierse see, strekoefeninge, ’n stort en ’n gesigmasker.

Die lewe het perfek gevoel. Ek het ’n vriend gebel en met hom gedeel dat die lewe te “stadig” voel. Ek het gewoond geraak aan die gejaagde pas van die lewe die afgelope drie jaar.

Sy reaksie? “Maak die meeste van die stadige dae.”

Ek onthou hoe ek weemoedig geglimlag het oor sy raad.

Toe kom Maandag en choas breek uit. My man het gebel en hy was bekommerd oor ons jongste, Kian, met wie dit nie goed gegaan het nie.

Aangesien ek geweet het hy is ’n bekwame pa, het ek besef dit was ernstig. Ek het terug na Waterford gehaas en drie slapelose nagte by die hospitaal deurgebring.

Kian het herstel, maar die daaropvolgende week was ’n warrelwind van ontwrigting.

Net toe dinge bedaar het, het my dogter Kristi siek geword, wat gelei het tot nog ’n week van slapelose nagte, ongewaste wasgoed, wegneemetes en ongereelde storte.

Dit was gedurende hierdie drie weke wat ek na ’n “stadige” dag gesmag het.

Uiteindelik het dinge bedaar en vrede het herstel.

Ek het nog ’n rustige Sondag geniet met my roetine van draf en selfversorging, net om ’n oproep van my man te kry aangesien ek sy skootrekenaar ingepak het en nie myne nie, wat ’n vyf uur lange rit na Waterford tot gevolg gehad het.

Ná dit alles het ek een aand besluit om my skootrekenaar om 17:00 af te sit en die kinders strand toe te neem.

Terwyl ek op die rotse gesit en gekyk het hoe hulle in die branders speel, het ek diep asem gehaal.

Ek was dankbaar dat ons relatief ongedeerd aan die ander kant van die gejaagdheid uitgekom het.

Nou, wanneer die lewe stadiger word, koester ek dit – ek haal asem, lees, kuier en speel saam met my kinders.

My vriendin Elmarie sê gereeld: “Waarmee is jy besig? Besig om besig wees”, asof jy ’n erewapen moet ontvang.

As ek hieroor nadink, besef ek hoe die lewe vir my gelag het toe ek oor stadige dae gekla het.

So dames, kom ons vat dit stadiger. Los die wasgoed vir ’n ekstra dag, geniet die rustige oomblikke en laat jou hart asemhaal.

* Astrid is ’n Namibiër wat saam met haar man en twee jong kinders in Waterford, Ierland, woon. Sy is passievol oor vrouebemagtiging en geestesgesondheid. Dié rubriek is deel van haar Be Brave Monthly Glimmer-inisiatief waar sy elke maand haar gedagtes, ervarings en raad per e-pos aan ’n groep aktiewe intekenaars deel.

– Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!