Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Deel ’n bietjie winterwarmte

Elvira Hattingh
Toe kry Johannesburg sneeu en Walvisbaai sand. Soveel soos ons min sien. Swakopmund se palmbome gooi hul takke eenkant toe en was dit nie dat hulle so dikvellig is nie, was hulle beslis nerfaf of omgegooi.

Stootskrapers op teerpaaie? Die Etosha-pan se wit stof wat tot binne die see gewaai word? Duine by jou voordeur uitvee? Voorwaar net in Namibië.

As jy in die land wil woon, moet jy braaf wees.

En ek? Ek is nerfaf van die koue en sommer die lewe ook. Soos ons almal maar, kry ek blerriewil koud. Soggens gaan sluit ek die hek oop met “die wind in my seile”. Hy is ongeduldig en help my so twee treë vinniger aan, blare in die hare.

Die pad terug moet jy beur teen die wind van voor. Hy klim in jou baadjie in en trek sy ysvingers oor jou wange. Hy ruk en pluk aan jou soos iemand wat skoor soek.

Engtevrees, ek wil uit. Terwyl ons in ons huise wegkruip teen die sand, wind en ysbere, neem Johannesburgers die dag af en kinders speel in die sneeu. Hulle bou krank sneeumanne met ongeoefende vingers op motors se “bonnets”, neem selfies met wit in die hare en winterwonderlande in die agtergrond.

“Kom ons speel in die sneeu, mamma, voor dit smelt.”

En ek hou die weervoorspelling heeltyd dop vir warmer dae, want ek is gemaak vir matige lentes en ’n tussen-in herfs. Die kat soebat by die venster om uit te gaan, maar is vinnig weer terug met ’n benoude gemiaauw by die voordeur.

My liewe ouma het altyd gedink aan die mense sonder komberse en baadjies op sulke koue dae.

Jy moet blind wees om dit mis te kyk: Al hoe meer mense wat openlik smeek vir werk. Of ’n heenkome, of iets. In inkoopsentrums staan talle winkels toegeplak, amper soos ’n geskenk wat nie nou al oopgemaak mag word nie.

Ek is nie ’n mens wat van soetsappighede, ’n onnodige gebruik van woorde of tierlantyntjies hou nie. Dis egter ’n werklikheid – selfs mense wat jy ken vra op Facebook. Hulle soek jare reeds, huur moet betaal word en ’n behoorlike maaltyd in die koue sal help.

Almal spreek simpatie uit, maar simpatie kan nie geëet word nie. Tye is swaar.

Ek lees ’n artikel oor hoeveel mense ongelukkig in hul werk is – dis by verre die meerderheid. Soveel mense is vasgevang tussen die boelies by hul werk en dié daar buite met die name Werkloosheid, Armoede en Hongersnood. Wat ’n netelige situasie.

Sondag is daar ’n bietjie warmte in die kerk en ons sing ’n lied oor al die swaarkry in die wêreld. Waar is God en sy liefde in al hierdie gebrokenheid en swaarkry? Het hy ons verlaat in ’n skewe, ontaarde wêreld met soveel stukkende harte?

Sy liefde is nog by jou en my, antwoord die digter. Ons moet dit nog uitdeel, verstaan ek. As hierdie nie ’n antwoord van bo is nie. . .

Die winter se koue en die knyp van swaarkry as mense die wind van voor het, kom nie net van ’n bietjie geld in die bank nie. Ons weet wat ons te doen staan.

Sterkte met die koue, sand en wind.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!