No Image Caption

Die aanbreek van vroueleierskap

Augetto Graig
Namibië het die naweek ’n leierskapskudding beleef met die inhuldiging van die land se eerste vrouepresident.

Byna onmiddellik daarna is ’n nuwe kabinet en nuwe ministers aangekondig, die eerste met ’n meerderheid vroue.

Donderdag het die nuwe parlement ook in werking getree, vir die eerste keer gelei deur ’n vroue-Speaker en met meer vroueparlementslede as ooit.

Vir eers is die politici aan die voorpunt van Namibië se menslike ontwikkeling.

In die private sektor is vroueleierskap glad nie meer iets ongewoon nie. Daar is ook talle loopbane waar Namibiese mans reeds gewoond daaraan is om opdragte van die skoner geslag te ontvang.

Vir diegene van ons wat gelukkig genoeg was om in ’n liefdevolle huis groot te word, is daar niks vreemd daaraan om ’n ma se bevele te gehoorsaam nie. Dit kom natuurlik.

Tog is daar nog baie meer om te doen om vroue in ons samelewing te bemagtig, te erken, te omhels en te vier. Geslagsrolle word te veel as vanselfsprekend aanvaar en nie genoeg bevraagteken nie.

In vandag se lewe is dit eenvoudig nie aanvaarbaar dat sekere pligte uitsluitlik deur ’n vrou behartig moet word nie. Albei ouers moet werk net om die basiese benodigdhede van ’n gesin te kan bekostig. Daarom is dit onregverdig en ook onredelik dat vroue alle huishoudelike verantwoordelikhede moet behartig.

Ek sê nie dat ons mans so bekwaam is om te doen wat vroue deur die eeue vir ons gedoen het nie. Ek kan beslis nie so goed kook soos byvoorbeeld my vrou nie. Daar is baie dinge wat ek nooit so goed soos sy sal kan doen nie. Dit keer my egter nie om haar te help waar ek kan nie.

Ek besef ons huwelik is ’n vennootskap. Ek moet haar ondersteun en bystaan. Vroue het ook ’n opdraande stryd om in die werkplek te oorkom. Elke bietjie wat ek by die huis kan doen om haar lewe makliker te maak, is net goed vir ons albei, en natuurlik ook goed vir ons kinders en almal in ons huis. Dit spreek vanself.

Ek lig hierdie kwessies uit omdat ek baie mans hoor kla oor die verwikkelinge en die nuwe rigting wat ons nou as ’n Namibiese nasie inslaan. Dit wil vir my voorkom asof my broers nie die voorregte sien wat ons steeds geniet nie, noudat ons vroue ook ’n kans gegun word om die leierskap oor te neem. Daardie voorregte is steeds daar.

’n Man bly ’n man, as hy dan ’n man is. Wat is dit eintlik om ’n man te wees, as die bemagtiging van vroue jou so in jou stewels kan laat bewe? Nee tog, praat met jou vrou, luister na haar, hoor wat sy sê. Onderhandel, redeneer, stry as dit daarby kom, en staan by jou punt as jy reg is.

Die feit bly staan dat ons mans dit nie alleen kan regkry nie. Ons het vroue broodnodig.

Hulle het ons ook nodig. Hulle het ons nodig om mans te wees.

Daarmee kom ek nou by die punt wat ek wil maak. Dit is hoog tyd dat ons vroue toelaat om leiding te neem, waar hulle die beste weet. Dit neem niks van ons weg nie.

As ’n Namibier is ek trots op hierdie veranderinge, maar ek glo steeds dat daar nie voorkeur gegee moet word bloot omdat iemand ’n vrou is nie, net soos geen man voorkeur verdien slegs omdat hy van die manlike geslag is nie.

Almal moet oor dieselfde kam geskeer word. Vaardighede, vermoë, vernuf en leierskap moet seëvier. Dit word die Namibiese weg en dit is die weg na ’n toekoms van voorspoed vir ons almal. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer