Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Die beste soort liefde

Iréne-Mari van der Walt
My ma het doelbewus baie dinge vir my geleer – wees luidrugtig oor dit wat jou pla, “gaan soek weer, jy soek nie hard genoeg nie” en natuurlik die heel belangrikste “nee my kind, mens is nie so nie”, wat eintlik in die meeste situasies toegepas kan word.

Ek dink egter die lesse wat my karakter die meeste gevorm het, was die lesse wat sy my onbewustelik geleer het; die dinge wat ek amper ’n halwe dekade na haar dood onthou wanneer ek aan haar dink.

Die grootste van hierdie – glo ek – is hoe om iemand te waardeer. Ek dink soos meeste dogters is daar ’n ongeskrewe, maar baie diep waardering vir my ma wat in alle aspekte van my lewe ingesypel het. Dit is moeilik om iemand in vrede te laat wanneer jou hart oorloop van liefde vir hulle, maar ek dink in hierdie geval is liefde en waardering baie soos geld – as jy dit altyd gehad het sal jy nie voel jy moet dit opgaar nie.

Ek en my broer het altyd gepraat oor die verskille tussen diegene wat onlangs ryk geword het en dié wat met geld grootgeword het.

Die verskil, volgens ons, is dat diegene wat rykdom onlangs gevind het, sorg dat almal bewus is daarvan deur die nuutste en duurste items te koop. Hulle sê mos goeie wyn het nie ’n krans nodig nie en in dieselfde situasie sal diegene wat aan geld gewoond is, dit nie aankondig nie – jy sal net weet.

Op dieselfde manier het my ma se konstante liefde en waardering my nooit arm aan liefde gelaat nie. Ek het nog nooit gevoel ek moet swoeg en soebat vir ’n ander se liefde en waardering nie, ek kry dit mos by die huis.

As ek na my eweknieë kyk, is ek my ma ewig dankbaar. Nie net vir liefde wat geen einde geken het nie, maar vir gesonde liefde. Streng liefde, liefde wat geweet het wanneer die Engelse se “cruel to be kind” nodig was, liefde wat gesonde grense gehad het en liefde wat gespruit het uit die uiterste respek. Ek het nooit gedink liefde kon sonder respek bestaan nie, maar hoe langer ek my grootmensskoene moet volstaan, hoe meer besef ek dat dit eintlik in die meeste gevalle sonder respek is – soos ’n koek sonder meel.

Hoe ouer ek word, hoe meer sien ek my ma se redenasies in. Sy was ’n mense-mens wat altyd ander met meer selfvertroue gelaat het as toe sy hulle ontmoet het. Toe ek nare dinge oor klasmaats kwytgeraak het, is ek altyd herinner dat daar mooi in almal skuil – soms kruip dit net bietjie dieper weg.

Daar is redes om elkeen te waardeer, en as jy dit nog nie gevind het nie, het jy nie hard genoeg gesoek nie. Maar die grootste les is dat die enigste manier om iemand werklik te waardeer, is om hulle tot die uiterste te respekteer. Respekteer hulle ruimte, hul menings, hul manier van dink en weet wanneer jy die liefde en waardering in toom moet hou. Ek dink as jy werklik lief is vir iemand, sal jy hulle genoeg respekteer om jou liefde eenkant te sit wanneer hulle dit nodig het.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!