Die boemelaar
Theresa van Zyl
Elke boemelaar was ook ‘n kind met ‘n ma wat lief was vir hom, trots was op hom, bekommerd was oor hom. Die baba wat ‘n verstoteling geword het wat nie meer goed genoeg is om liefgehê te word nie.
Toe is gelag omdat hy mooi was en swak in die hande van sy moeder. Hy moes vir alles huil en later vra, kon self niks doen nie. Vandag word hy egter ook gesien as ‘n swakkeling tussen ander. Weer eens moet hy vir alles vra. As kind was dit reg en mooi, maar vandag ‘n skande.
Hierdie kind se lewe is sommer vooruit alreeds vir hom uiteengesit – hy gaan nie net gewoon wees nie. Nee, ‘n bekende, ‘n begaafde - die een wat gaan uitstyg. Alles word dopgehou, hy is nog swak in die knie...maar een van die dae gaan die knaap kruip en loop.
Alles word vir hom gegee, maar meer word verwag. Hy moet alles kan doen - musiek, sport, ekstra klasse. Elke uur volgeprop in ‘n rooster, geen tyd vir kindwees of spontaan wees nie.
‘n Kind met alles en ook sonder alles. ‘n Kind met ouers en tog ook daarsonder - te besig en te gejaagd is om te luister, te verstaan, saam te lag en te huil, te speel en te droom. En dan is daar die kind wat as baba verwelkom is, wat nou moet aanvaar wat na sy kant toe kom. Die pa en ma se opgewondenheid is verby. Hy het net werk en uitgawes geword.
‘n Kind met ‘n hart wat brand om aanvaar en liefgehê te word. Hy soek dit in alles en deur alles wat hy doen. Maar daar is niks, dit bly leeg. Na buite perfek, maar na binne - daar waar dit net die gesin is - koud en so bitterlik alleen met ‘n honger hart en gedempte gees. Alles bly net by “ja” of ‘n hand vol geld.
Vandag - ‘n kind is hy nie meer nie, maar ‘n man wat van liggaam groot en sterk geword het. Maar in sy gees nog ‘n swak baba, ‘n honger kind.
‘n Kind word binne sy moeder se ménswees gemaak. Daar is hy gevorm na die beeld van God en nie sommer maar net nog ‘n baba nie. Hy het sy eie, unieke vingerafdrukke as hy net die kans gegun word om dit self te ontdek.
Sonder om sy eie stem te vind, kom die lewe wél – maar die volheid daarvan ontwyk hom.
Sy lewensbegeerte bly steeds om aanvaar te word. Maar die lewe doen nie, net alles wat verkeerd is, aanvaar hom, het tyd vir hom en kry hom keer op keer.
Hy was ‘n kind, ja. Die kind van ‘n moeder - ‘n vrou wat na buite mooi en volmaak, afgerond en tevrede is. Maar iewers langs die pad het alles vir haar leeg geword. Elke dag vra sy en elke dag kerm sy in haar gebede oor waar haar kind is.
Hy moes al ‘n man geword het, maar immer haar kind. Haar kind wat nou daarbuite is - iewers, nêrens.
’n Deel van haar wese is stom, het lankal verdwaal, al volg haar voetstappe al die regte paaie. Sy onthou en sy weet; iewers lag die mense nou vir hom – die verdwaalde grootmens-kind. Die boemelaar.
Ver op ‘n bankie sit hy – hy en sy gedagtes - en wonder met ‘n skaamte wat net sý wese ken. As daar nog net een kans was...
Hy sit alleen, mens-verlate en tog – hy bly mens. Soos ek en jy.
‘n Mens wat gestruikel en geval het, maar dit nie kon regkry om weer op te staan nie. Is hy skuldig? Hy glo hy is, want almal sê dan so – “skuldig” – al hy het gestruikel oor mensgemaakte strikke, mensgemaakte leuens en ‘n mensgekose koue.
Sy Skepper het dit nie so bedoel nie en hy ook nie, maar dit het gebeur. Hy wou anders lewe, hy wil anders lewe,hy kón anders lewe, maar nou kan hy nie meer nie.
En steeds sit hy. Op die bankie in die park, op die sypad, voor groot huise se elektriese hekke, op ‘n kerk se trappe, in die son, die reën, die snerpende wind, die donker.
Hy het nie met opset so geword nie, maar nét hy weet dit. Die mense wat vir hom lag weet dit nie. Dié wat ‘n draai om hom loop weet dit nog minder. En die res kry dit nie eens reg om in sy oё te kyk nie.
Die geheim wat hy met hom saamdra, vreet elke wakker oomblik aan sy binneste. So saggies dat niemand dit hoor nie, maar almal sien dit. Sy stukkende klere is heel teen sy verflenterde hart.
Daar bly hy, orals en nêrens tegelyk. Sy alleenspraak hoor net hy self:
“As my mense, my ma darem net hierdie een ding kon weet: Ek wou nie so word nie, ek het dit amper gemaak – maar nou kan ek nie meer nie, want ek weet nie meer hoe nie.
Maar daar bo sal ons mekaar weer sien, ek en jy, Ma – en daar sal jy vergeet dat ek daardie seun van jou was waarvan die mense jou vertel het. Die seun wat hulle op ‘n dag gesien sit het toe hulle op pad was winkel toe, fliek toe, Wimpy toe.
Ek wil net hê Ma moet weet dit - iewers langs my donker verdwaal-pad het ek my Skepper ontmoet en Hy sal sorg dat ek en Ma mekaar weer sal sien en dan sal dit sonder verwyte wees. Dan hoef ek nie meer te verduidelik nie en ma hoef nie meer skaam te wees nie.
Maar vir nou, bly ek eers hier waar ek sit. Ek kyk na die mense wat verbystap en ek bid vir elkeen. Ek weet elkeen van julle is ook elke dag besig om die een of ander stryd te stry waarvan net jy weet - teen jouself, teen wat jou lewe geword het, teen die drome wat jy lankal iewers vergeet het.”
- [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie