Die ‘Camino van Pyn’
René Hugo – Ek was gister by my vriendin Daleen. Soos altyd stuur sy groete aan die familie en ander bekendes. Sy is nog net so mooi en spontaan soos ek haar leer ken het, maar dit is duidelik dat sy nou, op 35-jarige ouderdom, definitief in die laaste fase van haar lewe is.
Die Groot K het haar finaal in sy visier. Hierdie tyd is duidelik baie swaar vir haar. Sy kry op gereelde ure van die dag suurstof en moet morfien inneem om die pyn darem hanteerbaar te maak.
Daar is ongelukkig nie morfien vir my hartseer nie. . .
Dié besoek het my aan die dink gesit oor al die verskillende soorte pyn wat ’n mens in jou lewe ervaar. En my gedagtes het my laat wegbeweeg van fisieke pyn – miskien omdat ek dit nog baie min beleef het – en meer laat wonder oor geestelike en/of emosionele pyn.
Dinge soos teleurstelling, hartseer en verraad wat ons almal maar in een of ander stadium in ons lewe ervaar en wat elk met sy eie soort pyn gepaard gaan. En toe het ek geëindig met vrae wat onmoontlike antwoorde het soos: Is alle pyn dieselfde? Verskil die graad van ons ervaring van pyn van mens tot mens? Of gaan dit hand aan hand met die oorsaak daarvan?
Miskien het hierdie “gewerk in my koppie”, soos ons kleintyd gesê het as jy baie ingedagte oor iets was, my brein ooraktief gemaak. Die gevolg was dat ek laasnag ’n droom gehad het.
Ek het gedroom van die dag toe ons seun in standerd 4 was. Hy het my die middag ná skool kom vertel van die verkiesing van die leerlingraad in die laerskool.
“Ma weet ek wil baie graag ’n prefek wees. Ons sit toe almal in die saal en Meneer sê: “Lourens”. En ek staan half op, maar toe sê hy: “Lourens Roux”, en ek gaan sit weer. Ek is toe nie gekies nie . . .”
Toe ek wakker word van die droom, huil ek. En Manlief is baie vies vir my.
“My vrou, as dit die grootste teleurstelling is wat hy in sy lewe sal ervaar, kan hy baie gelukkig wees. So leer hy ook van die lewe. Slaap nou!!”
Die nag se stryd het egter antwoorde op sommige van my vrae gebring.
Ek weet nou dat alle soorte pyn erg is omdat, die oomblik wanneer jy dit ervaar, jou verwysingsraamwerk van vorige pyn al genadiglik vervaag het.
Maar ek besef ook dat die ergste van alle pyn vir ’n ouer waarskynlik jou kind se pyn is. Die aard van hierdie pyn maak nie saak nie – of dit uit klein of groot gebeure spruit, of die bron teleurstellings of hartseersituasies is, selfs of dit fisiek of emosioneel is. Almal is amper onhoudbaar- erg vir ’n ma en ’n pa, want dis jou kind se pyn.
Jou eie pyn kan meeste ouers dra en verdra, want jy moet. Maar alle ouers besef ook, alreeds wanneer hulle daardie nuwe bondeltjie in hulle arms neem, dat jy jou kind vanaf geboorte ten alle koste teen alle pyn wil beskerm. (Dit is immers wat jou noop om onder die eikeboom met uitgestrekte arms te staan wanneer hy dit die eerste maal in die takke waag!)
Ongelukkig besef ’n mens ook baie gou dat, hoe groot jou begeerte ook al is om jou kind te beskerm, jy totaal onmagtig is om enigiets daaraan te doen. Dit is ’n geykte maar ware beeld – vir my voel dit letterlik elke keer asof my kind se pyn my hart in duisend stukke laat breek.
So bly dit my allergrootste wens: “my liewe kind, as ek tog maar jou alle pyn kan spaar. . . want dan spaar ek ook my eie felste pyn.”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie