Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Die dae toe Spiekeries die bal oor die doellyn gedra het

Van die hoof- tot die oop pawiljoen is volgepak. Vlae. Biltong en droëwors. Nartjies en dalk ’n lemoen met so ietsie ekstra ingespuit om die vitamiene C ’n hupstoot te gee. Koelbokse. Instruksies en raad vanuit die pawiljoen aan die lyn- tot die skeidsregter. Mexican waves. Almal – ongeag kleur, ras, denominasie of politieke wil – skree, juig en ondersteun die Welwitschias uit een mond. Een Namibië.

Die saadjie vir ’n liefde vir die ovaalbal is vele jare terug deur oupa Lag geplant. Lank voor televisie haar buiging gemaak het en jy jou eie prentjies in die kop moes vorm oor wat die sportkommentator oor die eter beduie het. En dit was juis dié kommentator, Gerhard Spiekeries Viviers wie se stem sweerlik verskeie drieë uitasem van opgewondheid oor ’n doellyn gedra het, wat dit so lekker vir ’n bokstertdogter van Otavi gemaak het om sport oor die radio te luister. Die bynaam Spiekeries is aan Gerhard gegee omdat dit altyd sy antwoord was wanneer iemand gevra het hoe dit met hom gaan.

Op soek op die web om meer oor Spiekeries te wete te kom, beland ek op die webtuiste afrikanergeskiedenis.co.za wat skryf oor die twee sangers wat ook vir nageslagte doodseker gemaak het sy bynaam word nooit vergeet nie.

Leon Schuster het Viviers goed geken, en in sy liedjie “Gerrie Seer Handjies Coetzee”, op die wysie van Anton Goosen se treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, het Leon gesing van ’n boksgeveg in Mmabatho in die destydse Bophuthatswana, waarin Gerhard glo vir Leon Spinks met Jon Tate verwar het.

Later het Bok van Blerk, wat in 1970 toe Viviers met dié stukkie legendariese kommentaar vorendag gekom het nog nie eens ’n gedagte was nie, ook hulde aan hom gebring. Bok het die liedjie “Spiekeries” opgeneem na aanleiding van wat sy oupa hom daarvan vertel het.

Toe die bekende poetsbakker en grapjas Leon Schuster ’n omroeper by die SAUK was, was hy die aanbieder van die program Die vrypostige mikrofoon waartydens hy mense gebel en met hulle gek geskeer het. Ook Viviers het soos vele ander deurgeloop. Schuster het hom as ’n polisieman voorgedoen wat navraag oor Viviers se vuurwapenlisensie doen. Hy het hom daarvan beskuldig dat hy “op die rug van sy bekendheid gery het”, iets wat Viviers absoluut woedend gemaak het. Op die ou einde het Schuster darem erken dat dit inderdaad hy is wat hom so ontstoke gehad het!

Viviers het egter nie net as rugbykommentator bekendheid verwerf nie. Die legendariese bokser Pierre Fourie, seker die beste Suid-Afrikaanse bokser wat nooit ’n wêreldtitel gewen het nie, het aan ’n geveg teen Bob Foster deelgeneem.

Weer eens was daar nog nie televisie nie en die luisteraars (en ek en oupa Lag) was op Viviers se kommentaar aangewese. Viviers was ’n vurig patrioties, en het die luisteraars met groot entoesiasme vertel Fourie was besig om die geveg te wen - terwyl die teendeel waar was!

Nog ’n voorbeeld van Viviers se legendariese rugbykommentaar was tydens ’n wedstryd teen ’n Nieu-Seelandse span bekend as die Nieu-Seelandse Kavaliers, wat eintlik maar net die All Blacks onder ’n ander naam was. Die nasionale rekordhouer in 400 meter-atletiek, Jaco Reinach was die Springbok-regtervleuel in dié reeks, met die laaste wedstryd wat op Ellispark gespeel is. Die skeidsregter het voordeel toegelaat nadat een van die Kavaliers die bal aangeslaan het, met Reinach wat toe sy hande op die bal kry. Viviers trek los met “hier is spoed, hier is spoed, hier is spoed,” totdat Reinach uiteindelik gaan druk!

Teen die einde van ’n Spiekeries-kommentaar was ek en Oupa Lag as deel van ons eie skare uitasem en moeg van “saamspeel”, in ’n sitkamer in Otavi, myle ver van waar die “eintlike” wedstryd gespeel is.

Kommentaar

Republikein 2025-02-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 20° | 35° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 18° | 36° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 20° | 35° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 19° | 35° Antananarivo: 18° | 29° Lilongwe: 18° | 28° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 24° Durban: 23° | 30° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 28° Harare: 17° | 29° #REF! #REF!