Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt

Die fout in ons geskiedenisboeke

Irene Van Der Walt
Ek het nog altyd aangeneem dat mense van my praat as hulle van skinderbekke en bostelegrawe begin praat, want ek was nog altyd ongelooflik nuuskierig.

Nuuskierigheid is nie altyd ‘n slegte ding nie - van nuuskierigheid het ek leer lees nog voor ek skool toe is en het ek Engels leer praat tot moedertaalsprekers moes erken dat ek die taal beter ken as hulle.

Daar is nou net daardie aaklige drang om alles van almal te weet, wat soms tot ‘n paar skindersessies kan lei, maar in die algemeen het nuuskierigheid my al baie meer goed as kwaad aangedoen.

Van nuuskierigheid het ek op die ouderdom van 9 die Mona Lisa feitlik aanbid, want ek kon net nie ‘n rede kry vir die skildery se roem nie. Baie mense sê dis juis omdat die skildery gesteel is, maar ek is nog nie tevrede nie.

Na die Mona Lisa begin my bewondering van die heelal. Soos baie van die mees invloedryke ruimtewetenskaplikes, glo ek dat die sterre my eerste liefde was. Meer as ‘n dekade later klop my hart steeds vinniger as ek my kopie van “A Brief History of Time” deur Stephen Hawking oopmaak.

Ek het in graad 4 vir die eerste keer die naam Galileo Galilei gehoor toe my skoolkurrikulum hom as die vader van moderne sterrekunde beskryf het. Hoewel ek onthou dat ek dit bevraagteken het, het die klas te vinnig aanbeweeg na Neil Armstrong en Buzz Aldrin vir my om té ontsteld oor die verwarring te raak.

Toe ek onlangs begin het om “A Brief History of Time” te annoteer, het ek vir die eerste keer sedert graad 4 onthou waaroor ek in die klas beswaar gemaak het. Hoe kan Galileo Galilei die vader van moderne sterrekunde wees as hy slegs die persoon is wat Nicholas Copernicus se eeueoue teorie reg bewys het?

Dit sou meer sin maak om Aristotle die gesogde titel te gee, al het hy geglo die aarde is die middelpunt van die heelal en alles (letterlik) om ons draai. Ten minste het Aristotle ‘n oorsponklike teorie gehad.

Vir dié van julle wat nie weet nie, Aristotle was die eerste persoon waarvan ons weet wat geglo het die aarde is nie ‘n plat bord met ‘n koepel waarom die sterre en planete wentel nie. Aristotle het geglo die aarde is rond.

Daarna het Nicholas Copernicus Aristotle se teorie aangepas deur te sê die aarde is wel rond, maar dat dit nie die middelpunt van die heelal is nie. Copernicus se teorie sê dat die aarde en ander planete om die son wentel.

Meer as ‘n eeu later het Galileo Galilei bewyse van Copernicus se teorie voortgesit.

Daarna het Johannes Kepler in die 1600’s met die teorie vorendag gekom dat die planete nie in sirkels beweeg nie, maar in meer ovaalvormige vorms (elliptiese vorms). Kepler kon nie sy teorie dat die planete deur magnetiese krag in hul wentelbane gehou word by die elliptiese teorie uitbring nie. Dit het tot gevolg gehad dat Isaac Newton die teorie van swaartekrag ontwikkel het.

Newton se skryfwerk sê ook nooit dat hy die idee gehad het toe ‘n appel op sy kop geval het nie. Newton skryf slegs dat hy onder ‘n boom gesit en die idee gekry het toe ‘n appel geval het.

Dit laat jou nogal wonder hoe baie geskiedenis ons verkeerd het. Was Christopher Columbus werklik so vreedsaam soos die geskiedenis dit laat voorkom?

Nog meer laat dit my wonder oor wat toekomstige geskiedenisboeke verkeerd sal hê. Sal Wladimir Poetin as ‘n vreedsame en vriendelike staatsman onthou word? Sal dr. Seuss onthou word as ‘n nare persoon wat haat aangestook het, of sal ons “The Lorax” onthou as ‘n brokkie geluk uit ons kinderdae?

Hulle sê geskiedenis word deur die wenners geskryf. Die tyd sal ons agterkleinkinders maar moet leer wie se name in hulle skoolkurrikulums gaan verskyn. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer