Die gesig van Afrikaans
As boervrou in die suide van Namibië, gaan daar soms weke verby dat ek niemand anders as my eie boerman en ons werkers sien nie.
Dis maar ’n afgesonderde stuk aarde waar ons woon. En dan is dit bloedig warm ook, so ek dra nie grimering wanneer ek op die plaas is nie. Wanneer ek egter die geleentheid kry, dan doen ek moeite. Dis vir my lekker om my mooi te maak, met al die lekker dinge wat daarmee saamgaan, soos blink goed, rooi lippe, maskara en parfuum agter my ore.
So was dit dan ook toe ek verlede jaar Kaap toe gevlieg het om by my mense te gaan kuier. Omdat ek hulle selde sien, doen ek altyd ekstra moeite. Ek het donkervroeg opgestaan, my mooi aangetrek, ingekleur, gepoeier en gespuit en die pad lughawe toe gevat. Uitgedos soos min.
Soos dit mos maar op ’n lughawe gaan, word daar lank gewag en ons klomp wat vir dieselfde vlug wag, het later soos ou vriende begin voel, veral toe daar aangekondig word dat die vlug vertraag is. Ons het lekker gesels. Die vlug is uiteindelik aangekondig en ons het nader beweeg aan die deur toe ’n jong man aangestap kom om ons deur te laat. Ons het in ’n lang ry ingeval en geduldig ons beurt afgewag.
Ek het my staan en verkyk aan die jong man wat elke persoon vriendelik groet, verneem na die persoon se welstand, vra vir die “boarding pass” en paspoorte en hulle ’n aangename vlug toewens, in perfekte, foutlose Engels. Met elke passasier was die rympie dieselfde, maar hy het dit met soveel deernis gedoen dat dit gevoel het asof hy wérklik hoop dat jy ’n wonderlike vlug sal hê.
Die jong man se hemp was kraakwit, die donkerblou jas wat hy bo-oor gedra het, het perfek gepas en was sonder ’n enkele fraaiing of donsie. Hy was netjies en regop en trots. En uiters professioneel. Ek moet bieg, dit was ’n aangename verrassing.
Ek was 16de in die ry, en met elke persoon het hy dit presies dieselfde gedoen. Toe dit my beurt is en ek staan eindelik voor hom, kyk hy op, vas in my oë, en daar bars ’n glimlag so wyd soos die Heer se genade oor sy gesig oop, en hy groet my met: “Goeiemôre Mevrou! En hoe gaan dit vandag met Mevrou?”
Harder en met baie meer entoesiasme as met enige van die ander passasiers. Ek het 15 keer die rympie gehoor en my antwoord in my beste Woolworths Engels geoefen in my kop, en hier kom haal hy die wind totaal uit my seile.
Ek weet vir ’n feit die meeste mense voor my was ook Afrikaans, maar hoe hy dit so duidelik op my gesig kon sien en die vrymoedigheid aangevoel het om my in Afrikaans aan te spreek, bly tot vandag toe ’n vraagstuk vir my. En nes met die Engels, was dit ook ’n perfekte, foutlose Afrikaans.
Presies wat aan my lyk dan so erg Afrikaans? Hy het nog nie eens my paspoort in sy hande gehad nie, maar hy het geweet. Ek het net begin lag, effens geskok en baie verleë, en ’n paar ander agter my het ook hardop gelag, want net soos ek het hulle ook die Engelse rympie gehoor. Ek het nie geweet of ek trots of skaam moes wees nie. Hy het my een kyk gegee en hierdie boertannie aangesien presies vir wat ek is. Daar was duidelik iets aan my wat baie hard en duidelik Afrikaans gepraat het, al het ek nog nie een woord voor hom, of vir hom, gesê nie.
Dit was eers later, toe ek in die vliegtuig sit, dat ek besluit het ek moet beslis trots voel, want ek is mos wat ek is.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie