Die gras is groener aan die ander kant
Ek het al gesien hoe ’n rugbyspeler in ’n ysterpawiljoen vasgeduik word en net weer opstaan en verder hardloop asof niks gebeur het nie.
’n Mens jok niks as jy sê dat Namibiërs gehard is nie – en tog het ek al gesien hoe ’n eerstespanrugbyspeler Tom en Jerry-trane huil omdat daar, in sy eie woorde tussen die trane deur, “nie genoeg bome is nie en die wolke heeltyd voor die son is én hy sy ma mis”.
Die snye en gebreekte bene is heel hanteerbaar – amper tweede natuur – maar sodra dit nie Namibië is nie, val ’n verbasende hoeveelheid van ons Namibiërs uitmekaar.
Ons is gemaak vir Namibië en die meerderheid van ons vaar nie te goed in ander lande nie. Ek hoor gereeld stories van ander Afrikaanssprekendes wat oorsee trek en binne twee maande sak en pak terug by die huis is.
Daar is ’n gesin wat al die pad Nederland na die familie toe geëmmigreer het. Skaars drie maande later is hulle terug. Dis nou nie eens asof daar ’n groot taalverskil is nie – Afrikaans is letterlik net Nederlands in sy kerkklere. Boonop is dit soos hier waar almal Engels kan praat.
Tog voel dit nie reg nie. Daar is té veel mense in hulle stede, daar is té veel oop vlaktes sonder bome en daar is sommer so ’n astrante rivier wat regdeur die stad loop – nee sies man! Loop droog vir 11 en ’n half maande van die jaar soos ’n normale rivier.
My ouma het altyd gesê hierdie mense wat so hartseer is en pille drink net aandag soek; hulle kort net ’n behoorlike kopklap. Ongelukkig stem ek glad nie daarmee saam nie en ek weet vir ’n feit dat sy nog nooit op ’n plek gebly het waar ’n mens die son vir slegs 41% van die dag sien soos in Kroasië nie (dis in vergelyking met 82% in Namibië).
Sonder om te klinies te raak met die name van geestesversteurings en wat nog, wil ek net sê dat hierdie soort weerpatrone iets aan ’n man doen. As ’n mens dit nog nooit ervaar het nie, is dit moeilik om te verduidelik hoe die gemoed heeltemal vernietig word deur weke en weke sonder ’n enkele straaltjie sonlig. Sommige dae is die wolke so dik dat dit voel asof die straatligte aangeskakel moet word sodat ’n mens 14:00 net kan sien waarheen jy stap.
En dan noem ek nie eens van die winterreën nie. Ek is mal oor die winter, maar dis nie soos Namibië waar winter eintlik maar net somer sonder die vlieë en muskiete is nie. Dit duur dae lank voort en laat ’n mens nou die fout maak om nat te reën, is dit nie soos Namibië waar die son weer uitkom en jy binne 25 minute weer droog is nie – ’n mens bly mislik en ongemaklik vir die res van die dag.
Persoonlik dink ek die ergste is wanneer ’n mens glad nie meer kans kry om Afrikaans te praat nie. Al wanneer jy Afrikaans hoor is oor die foon waar die sein kort-kort uitsny en jy stukkie vir stukkie met die familie moet praat sonder om ordentlik hulle gesigte te kan sien.
Jy vertel vir hulle hoe mooi al die geboue is en hoe vriendelik die mense is, maar eintlik wil jy net Tom en Jerry-trane huil want daar is nie genoeg doringbome nie en die wolke is heeltyd voor die son én jy mis jou ma.
Daar is natuurlik menige Namibiërs wat nie net oorsee oorleef nie, maar sommer floreer. Hulle is gemaak vir die groot stede en die anderse weer. Hetsy dit die VSA, Nederland, Nieu-Seeland of enige ander plek is waaraan ’n mens kan dink.
Dit wys dat ons net so aanpasbaar soos enige ander mense is. Ek dink egter ons is net nie bereid om aan te pas nie. In ons agterkoppe knaag daar ’n moedswillige stemmetjie wat sê: “Jy hoef dit nie te laat werk nie; jy kan altyd teruggaan.”
Ek weet nie hoe ek oor dié stemmetjie voel nie. Aan die een kant moedig dit my aan om aspris te wees en nie te verander nie, maar aan die ander kant sê dit presies wat ek wil hoor. Die gras ís groener aan die ander kant, maar dis net omdat die son dit nooit geel kan brand nie.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie