Die impak van ’n goeie onderwyser
Ek het ’n paar keer in die eerste vier jaar van my werksloopbaan, juf. Ronel Louw, my Engelsonderwyseres op hoërskool, se raad gevolg wanneer dit by dié rubriek kom.
“As jy nie weet waaroor om te skryf nie, begin met ‘ek weet nie wat om te skryf nie, maar. . .”
Ek glo dit is te danke aan onderwysers soos juf. Louw dat ouers hul hele lewe sal herrangskik om hul kinders in “die beste skole” in te skryf.
Ek dink in ’n wêreld waar skole nie unieke kurrikulums volg nie, glo ek vas dat die hart van onderwysers ’n skool se standaard hoog hou – en in ’n skool wat Shakespeare-dag gevier het, was die Engelsjuffrou met die breë glimlag se teenwoordigheid onmisbaar.
Miskien is ek ’n bietjie bevooroordeeld teenoor my taalonderwysers omdat ek nog altyd ’n “taalkind” was, maar selfs my wiskunde-onderwyseres en natuurkunde-onderwyseresse (jammer vir die gryshare, dames) kon wel ’n saadjie plant wat ná hoërskool in ’n intense belangstelling in wetenskap en syfers ontaard het.
Die arme juf. Mohr wat telkemale somme en metodes moes herhaal tot ’n ieder en ’n elk van ons die kloutjie by die oor kon bring, het my die mooi in wiskunde laat sien – hoe mooi ons absolute malligheid in boksies gepak het en natuurlik die bevrediging wat jy kry wanneer jy jou som terugwerk en besef jou antwoord is reg.
My alma mater was nog altyd een van daardie skole wat baie suksesvolle persone hul borskaste laat uitstoot het wanneer hulle die naam sê, en ek sou dit nie toeskryf aan goeie bestuur nie, maar eerder die goeie harte wat in die skool se gange rondloop.
Elke onderwyser wat daagliks poog om ’n stukkie van hul liefde vir hul vak in leerlinge aan te wakker, verdien ’n spesiale plekkie in die hemel, ’n salarisverhoging en ’n lekker warm borrelbad. Dit breek my hart om te weet dat hulle dit ongelukkig nie kry nie.
Dit breek ook my hart om te weet dat onderwysers met passie en karakter stadig maar seker besig is om uit te sterf. Baie sou dit toeskryf aan die jonger generasie se gebrek aan respek, en ek is geneig om saam te stem. Té veel goeie onderwysers het al vir my gesê dat vandag se kinders hand uitruk. Ek kan dit nie miskyk nie. Dit laat my wonder of ons ooit weer respek in ons samelewing sal terugkry.
Daar bestaan ’n teorie dat daar drie soorte ouerskap is wat op mekaar volg: een té streng, een té toegeeflik, en een wat net reg is – dink aan die drie beertjies se pap.
Indien ons sou aanneem dat vandag se jong generasie té sag grootgemaak word, is daar hoop dat die volgende generasie net reg sal wees. . . en dan begin die siklus weer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie