No Image Caption

Die kamma-wêreld van ’n ‘trophy wife’

Yolanda Nel
Kyk, ek is eerste om te erken ek het jare gelede nie gedink (gehoop of gewens) my lewe lyk soos wat dit tans lyk nie. Ek was (ek is nog steeds) vas oortuig ek sal ’n baie goeie trophy wife uitmaak.

Ek sal heeldag kosmaak en die kinders mooi leer. Ons sal nie ’n televisie besit nie. Ek sal nie meer ’n foon besit nie. Ons sal “off the grid” wees – in alle opsigte. Die hoenders sal eiers lê, ek sal pasta uit niks maak en my spinasie self plant.

Maar nee, die lewe het vir my gesê daai lewe is jou nie beskore nie.

Jy sal werk om jou spinasie in ’n winkel te koop, want daar sal nie tyd wees vir plant en oes nie. En as jy tyd maak, sal die realiteit vir jou mooi laat verstaan dat jy nie groen vingers het nie. Ek het wel probeer. Die eerste keer het ek vergeet om die spinasie nat te lei en die tweede keer het die seuntjies in die tuin gespeel nadat die saadjies geplant is.

Ons doen nou maar wat almal doen. Ons werk hard, ons maak kinders groot en ons lewe in ons huisie soos dit vir ons pas. Ons sit steeds op die kombuisvloer en eet pasta met ’n lepel direk uit die pot. Maar ek sal eerlik wees, somtyds raak dit alleen en soek ek bietjie volwasse geselskap.

Almal verwys my na ’n bekende aanlyn platform om te kyk wie is enkellopend en opsoek na vriendskap, geselskap of bietjie vermaak, want dating in vandag se wêreld is ’n sirkus. Daar bestaan nog nie ’n Afrikaanse woord daarvoor nie, maar ons bevind onsself deesdae in situation-ships eerder as verhoudings.

Ek weet nie hoe om myself te verkoop nie, maar hier gaan ons. Ná ’n hele paar onvanpaste foto’s waarvoor ek nie gevra het nie, is daar ’n vriendelike gesig wat groet. Hy is ’n paar jaar ouer as ek. Nou sulke virtuele ontmoetings is baie soos ’n werksonderhoud, net sonder al die papierwerk. As julle gemaklik is met mekaar deel julle jul hartseerverhale. Kort voor lank begin ons gesels oor kinders. Myne, joune en die moontlikheid of daar nog in die toekoms sal wees.

Dit raak stil. Vir dae aaneen. Ek besef jong kinders is nie vir almal nie. Nog ’n paar dae gaan verby en die man met die vriendelike gesig stuur ’n boodskap. En ek besef ek het my kinders “laat” gehad, want die man se kleinkinders, ja ’n verdere generasie, is so oud soos my kinders. Ek probeer wiskunde doen, en dis nie my sterkpunt nie. Maar die skrif is teen die muur. Ons het beide nie hierdie onderhoud geslaag nie.

Kollegas het die positiewe daarin probeer sien en het onmiddellik gedink my kroos kan nuwe maatjies maak. The more the merrier. Ek het intussen die toep verwyder. As jy my wil ontmoet – stuur maar eerder ’n e-pos en maak ’n afspraak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!