Tielman 1
Tielman 1

Die kort en die lank van misdaad

Tielman Van Lill
Dit lê nie op die periferie van my belangstelling nie, maar met Namibiese misdaad wat soos ’n vars modderkoekie in my gesig gevryf word, het ek nie veel van ’n keuse om daarvan bewus te wees nie.

Ek moet gereeld keer om nie ’n gemoedsbesakking van oormaat te beleef nie. Sommige mense sal moontlik die besakking heelwat anders wil spel, maar ek sal ter wille van onse gerespekteerde lesers liewer by die skoner weergawe daarvan hou.

My vraag is hoekom word daar so maklik ’n lewe geneem? ’n Vrou onsedelik aangerand? ’n Onskuldige kind gebreek? Is dit ’n gebrek aan opvoeding, of is dit maar net omdat dit so maklik geword het?

Ontevrede, jaloerse en pleinweg onopgevoede barbaarse minnaars, kêrels en mans is aan die voorpunt.

Barbaars, brutaal, gewelddadig, onmenslik en vernederend. Dit is al hoe die booswigte se optrede beskryf kan word.

Maar daar word gereeld en gerieflik van ’n misdadiger se menseregte gepraat. Menseregte? Wat het van die mens se reg geword wat aan die hand van ’n moordenaar gesterf het, verkrag of gebreek is?

Die moordenaar in die tronk word beter deur die staat versorg as ons oumense wat met ’n karige staatspensioentjie moet krepeer.

Tronkvoëls, verkragters, moordenaars, diewe en al wat ’n skollie in die tronke, het ’n gemaklike lewe met mediese sorg, kos en ’n warm kombers wat die belastingbetaler voorsien.

Regerings wat so graag geweldsmisdadigers se menseregte beskerm, behoort die families van slagoffers die res van hul lewens van enige vorm van belasting vry te skeld. ’n Paar miljoen Namibiese dollar as vergoeding deur die staat sal nie ’n geliefde terugbring nie, maar sal finansiële gemoedsrus verseker.

Om iemand in ons mooi land te vermoor, het so maklik geword soos dit vir ’n minderjarige tiener is om drank sonder ’n identiteitskaart by een van die land se vele kuierplekke te koop, of ’n tjoepie vir laatnagpret aan te skaf.

Wat my bekommer is dat die staat en in besonder die president tjoepstil is. Wanneer gaan die Namibiese regering ’n standpunt teenoor moordenaars inneem om sy vredeliewende burgers te beskerm?

Dalk is die manne in beheer te besig met ander dinge wat meer in persoonlike belang is as om geweldsmisdaad te takel.

Ons oostelike buurman, Botswana, pas nog steeds die doodstraf toe. Tsjad het die doodstraf in 2014 geskrap, maar weer die volgende jaar vir terrorisme ingestel. Egipte, Ekwatoriaal-Guinee, Libië, Somalië, Suid-Soedan, Soedan en Nigerië is van die Afrikalande wat steeds die doodstraf as afskrikmiddel gebruik, terwyl Gambië in 2018 ’n moratorium daarop ingestel het.

Alhoewel die doodstraf in 1988 laas in Burkina Faso voltrek is, het dié land verlede jaar die doodstraf geskrap.

Op www.amnesty.org skryf ene Yves Traoré, direkteur van Amnestie Internasionaal (AI) in dié land: “Abolition of death penalty a hard won victory.”

My vraag is, a hard won victory vir wie en wat? Dit is slegs ’n oorwinning vir die moordenaars.

Volgens die sogenaamde Universal Declaration of Human Rights van AI, is die doodstraf uiters wreed, onmenslik en vernederend.

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!