No Image Caption

Die lewe bly ’n raaisel

Augetto Graig
Lieg en bedrog kan jou net so vinnig boontoe bring as wat dit jou in die moeilikheid sal laat beland.

In ’n wêreld wat blitsvinnig verander, lyk dit dikwels of die booswigte voorkeur geniet en al die sukses in die lewe behaal.

Dit is egter waar dat ’n kasteel wat op onwaarhede gebou is se fondasie glad nie so stewig is as wat dit voorkom nie.

Wanneer die storm kom, is dit beter om in ’n klein ou huisie te bly wat op die regte fondasie gebou is, as in ’n lugkasteel wat met die eerste sterk wind weggewaai word. En die storm sal kom.

Ek noem dit net om jou te troos wanneer dit begin voel asof dit beter sal wees om saam met die skurke te werk want jou eerlike gedrag hang soos ’n ketting om jou nek.

Dit is ook waar dat dit jou iets sal kos om getrou aan jou woord te bly, om voorbeeldig op te tree en die waarheid te koester.

Ons is almal in die wêreld en die wêreld volg sy eie reëls, wat nie altyd sin maak nie.

Die lewe bly ’n raaisel wat nie maklik verstaan word nie. Tog bly die waarheid waar, of almal nou besluit om die leuen te glo of nie.

Net so sal jou getrouheid aan opregte waardes goed vir jou wees, al raak dinge rof en die onregverdigheid in die wêreld word op jou afgedwing.

Op die einde van die dag het jy net jou waardigheid om op terug te val. Daardie waardigheid hang af van jou getrouheid aan eerlikheid en deursigtigheid.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is geen engel nie. Ek is ook skuldig aan die wit leuentjie en die skelm glipsies so nou en dan. Tog besef ek my foute en probeer altyd om myself te verbeter, nie omdat ek dink dit sal my iets in die sak bring nie, maar omdat ek glo dit is iets wat ek aan myself verskuldig is.

Ek verdien om die mens te wees op wie ek trots kan wees. Ek verdien om eerlik my kop te kan lig en selfs die aaklikste werklikheid in die gesig te kan staar.

Vandaar kom veerkragtigheid. Veerkragtigheid is nou en in die afsienbare toekoms van uiterste belang. Soos dinge nou in die wêreld gaan, sien ek ’n moeilike tyd wat vir ons almal voorlê. Die gevolge van die worstelinge tussen wêreldmoondhede sal beslis vir ons hier in klein ou Namibië ook raak.

Dan sal jou eie vermoë om werklik jy situasie te kan verstaan en eerlik jou vermoë te kan toepas van soveel meer belang wees.

Intussen wil ek ook net noem dat die waarheid soms in ’n fantasie toegedraai word.

Ons volwassenes weet byvoorbeeld almal dat Kersvader en die Paashaas albei kinderstories is. Tog bly die waarheid van Kersfees van toepassing en is die lesse van Paastyd nou, miskien meer as ooit, van krag.

Ek bedoel net dat dinge nie altyd so eenvoudig is nie, en dat daar selfs in die boosheid van die werklikheid ook goedheid versteek kan wees.

Dus voel ek dat die beste benadering tot jou gebruik van die waarheid goed opgesom word in hierdie oeroue raad: “Voordat jy praat, vra jouself eers: Is dit goedgesind? Is dit nodig? Is dit waar? Verbeter dit op die stilte?”

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-02-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer