Die mooi in prentjiemooi
Gerhardus van Grootfontein – Ek het altyd baie van kunsuitstallings gehou totdat tannies by kunstefeeste dit vir hulleself toegeëien het.
Hierdie tipe tannie verskyn gewoonlik in linnepakkies, met natuurlike grys hare en ’n glas chardonnay in die hand. In hulle gesprekke poseer prominente name as vriende of kennisse: tannie een ken vir Sandra Prinsloo. Tannie twee het vir Portchie verlei. Die laaste tannie het die voorreg om diep in haar ervarings te delf en trek gewoonlik die troefkaart. Sy oorwin met goud! Tannie drie is Langenhoven se reïnkarneerde moeder. Sy was die inspirasie vir soveel wat Afrikaans het om te bied.
Nou ja, soos gesien met tannies een, twee en drie, word waarde van kuns gemeet aan sosiale hoogwaardigheid eerder as die ervaring daarvan. Kuns en uitbeelding het vir millennia status en klas gesuggereer. En dit doen steeds vandag!
’n Goeie voorbeeld is die bekende Da Vinci-skildery, Salvator Mundi, wat in 2017 vir US$450,3 miljoen verkoop is. Hierdie einste skildery is in 2005 vir net US$1 175 op ’n kunsvendusie opgeveil. Dit was in ’n baie swak toestand en die afslaer het nie besef wat hy opveil nie. Die waarde het letterlik met honderde miljoene vermeerder toe dit aan die lig kom dat dit baie moontlik ’n Da Vinci-werk is. Die waarde van die kuns is nie bepaal deur die ervaring van die kyker nie, maar deur die assosiasie met die ou-meester. Dit is hoekom die tannies so kompeteer met hulle eie assosiasies met Sandra, Portchie en Langenhoven – dit voeg waarde toe tot hulle aansien in ’n samelewing van geld, klas en status.
Danksy tegnologie en sosiale media is kuns en die voorstelling daarvan meer toeganklik vir Jan Alleman. Weens ’n lukrake plasing op sosiale media, het ek so paar weke gelede ’n kunsuitstalling in ’n redelike ru spasie bygewoon. Die bywoners van die uitstalling was mense wat nie noodwendig baie tandarts toe gaan nie. Dit was mense wat werklik ’n liefde vir die mooi en die interessante het. Hulle het koffie gedrink, gerook, filosofeer en net die oomblik geniet. Daar was geen pretensie of hoogdrawendheid nie.
Sosiale media, as platform, skep ook ruimte vir kunsliefhebbers (met stywer beursies) om kuns en kreatiwiteit te waardeer. Die wat nuuskierig is, kan selfs meer kennis opdoen deur aanlyn kursusse vir ’n appel en ’n ei te koop. Groot galerye (soos die National Gallery in Londen) laat webswerwers toe om dele van die virtuele galery gratis te besoek. Kuns en die waardering daarvan is nie meer opgesluit in ivoortorings nie. Die sleutel is ’n slimfoon en Wi-Fi/data.
Gedurende my besoek aan die uitstalling, kyk ek ook deur kunsboeke en word deur die prente en illustrasies in vervoering geneem. Ek het probeer sin maak van my ervaring en gaan lees toe op oor die effek van estetika op die psige: ’n Noorweegse studie in 2014 het bevind dat om na kuns of mooi prente te kyk angs en depressie verlaag. Dit skep ook ’n gevoel van vergenoegdheid met die lewe. Professor Zeki, ’n neurobioloog aan die Universiteit van Londen, ontdek verder dat visuele interaksie met kuns dopamien afskei. Dit boots die gevoel van verlief wees na.
So, kom ons druk die linnetannies ’n pit, maak ’n koffie-afspraak met onsself en trek daardie koffietafelboek nader. Of, besoek museums oor die wêreld in die palm van jou hand. Wat van kunsboeke in ons staatsbiblioteke? In Grootfontein se biblioteek is daar ’n redelike versameling kunsboeke. Kuns is vir almal. Revolusie! Kom ons raak verlief.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie