Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Die nuwe jaar en ons voornemens

Sanet Pearson
Wiesie Kotzé – My vriendin vra my onlangs wat my voornemens vir die nuwe jaar is en toe besef ek ek het vir die eerste keer nie regtig enige voornemens nie.

Om aan die begin van die nuwe jaar met ’n nuwe projek te begin spartel, is so doeltreffend soos om ’n kat te probeer bad. Vra my, ek is die koningin van onvolhoubare Nuwejaarsvoornemens.

As jy nie teleurgesteld in jou voornemens wil wees nie – wat om een of ander rede in die niet verdwyn (hier teen middel Februarie se kant) – is dit dalk ’n goeie idee om jou voor te neem om aan te hou met ’n gewoonte wat jy reeds die vorige jaar begin het. Of neem jou voor om iets onvermydeliks hierdie jaar te doen – in my geval om ons besittings in te pak om te verhuis. Daar is min maniere om dít te vermy...

Alle goeie intensies, soos ook voornemende presidentskandidate en hulle beloftes, kom iewers teen die realiteite van die lewe te staan. Om te droom oor hierdie of daardie wat anders gaan wees in die nuwe jaar, tydens die vakansie – waar die lewe teen ’n laer rat loop – is maklik. Die probleem daarmee is dat ’n mens nie noodwendig die daaglikse vereistes hierby inreken nie. Dus, gewoonlik ’n maand en ’n half later, het die saak doodgeloop.

Laat my nie begin praat oor nuwe diëte of oefenprogramme so vroeg in die nuwe jaar nie. Die mens is ’n gewoontedier en wanneer jou dae weer veeleisend begin raak, dan verval jy eenvoudig in ou gewoontes omdat dit die meeste ingeoefen is en die minste tyd gaan verg om te doen. Gits, stik ek nou amper aan my eie nugterheid. Ek reken dit maak meer sin om gewoontes wat reeds min of meer gevestig is, te volg.

Hoekom probeer mens nie liewerste nuwe gewoontes in Junie of Julie aanleer nie? Die lewe is net eenvoudig so aanmekaargesit dat ’n mens die 1ste of die 2de Januarie nie lekker kan skat wat alles die komende jaar op jou wag nie. Teen 14 Januarie het die jaar al begin spoed kry. Kinders is al amper op pad skool toe, en die meeste ouers het waarskynlik al teruggekeer werk toe. Wag en sien, wanneer alles weer terug in die normale roetine is, moet so baie dinge teen die spoed van lig gebeur, dat enige nuwe gewoontes terstond by die venster uitvlieg.

Iemand na wie se potgooi ek graag luister, praat daarvan om gewoontes “op te stapel”. Met ander woorde begin eers om een nuwe gewoonte aan te leer. Wanneer ’n mens daardie gewoonte onder die knie het, dan kan ’n mens die eerste nuwe gewoonte plus nog een probeer handhaaf. Ensovoorts. En asseblief, begin enige ander tyd, maar nie vroeg in Januarie nie!

Ek glo ek het die reg om hieroor te preek, omdat ek al menigte Januaries met nuwe oefenprogramme wou begin, nuwe diëte of planne om meer te lees of te skryf. En iewers in die daaglikse gespartel het dié voornemens een vir een in die niet verdwyn. Dis lekker om al lank genoeg te lewe om te kan terugkyk en uit jou eie ervaringe te kan leer. Die groot “vier nul” lê hoeka oor ’n jaar of wat vir my en wag. Dis erg om diep binne-in jou jonk te voel en dan groet ’n medejongmens jou as “tannie”. . . Maar as hierdie tannie ten minste slimmer kan begin lewe en hopelik iemand anders kan help om nie al dieselfde foute te maak nie, dan sal ek maar die naam begin dra. Al is dit onwillig.

Almal wat ek sover in die nuwe jaar weer raakgeloop het, lyk asof hulle nie kan glo dat hulle meer van 2024 mag verwag as enige van die vorige jare nie. Covid het ons darem ’n hele paar jaar lank stert tussen die bene laat loop.

Nou toe dan, mag 2024 al jou versigtig-optimistiese verwagtinge oortref. En mag jy volhoubare voornemems vir die toekoms begin maak.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!