René Hugo
René Hugo

Die pes van dinge. . .

René Hugo – Amerikaners is ’n uitsonderlike nasie.

Hulle raas en praat baie, skryf lekkerleesboeke en glo dat alles en almal net soos hulle dink. En hulle taal laat meeste “regte” Engelsprekendes se hare rys. Maar soms kom hulle tog na vore met raaksê-terme. Die een waarvan ek veral hou is: “my pet hate. . .”

Ek sien hierdie term word in die woordeboek omskryf as “’n persoonlike afkeer”. Ja, dit is seker reg – maar die woord “pet” het ook die konnotasie van iets wat saam met my leef, asof dit ’n troeteldier is. Iets vir wie ek soms wil sê: “Jy verpes my lewe.”

My grootste “troetelpes” is tans maskeerband en sy familie. Daardie opgerolde plak-materiaal wat mens elke dag nodig kry. Maar die “nodig kry” is ongelukkig net sover as wat ek kan kom . . . Dit maak nie saak hoe dringend of hoe vinnig ek iets moet toeplak nie, die mislike maskeerband willie!

Hy weier om die rol waaromheen hy gedraai is, te los. Eers sukkel ek altyd om sy begin te kry. Dan, sodra ek ’n puntjie beet het en begin om die band af te rol, gly die afgerolde stuk skielik eenkant toe en sit ek met ’n stukkie wat net die helfte van die maskeerband-breedte is.

Die gevolg is dat ek dan versigtig weer, ’n dun beginpunt moet loskrap, saggies losmaak totdat ek die totale breedte van die band los het – en dan, na dit ongeveer 10 mm los is, skeur die dekselse ding weer skeef na die ander kant toe!

Maskeerband is sonder twyfel my grootste troetelpes. Maar daar is ook ander pestelike troetelinge. Eintlik val alles wat om kartontolle gedraai is in hierdie kategorie: geskenkpapier wat nie wil ophou rol nie, “glad wrap” wat alewig hulle begin so wegsteek dat die voedsel wat jy wou toemaak intussen vol vlieë geword het, en dan veral: foelie. . .

Foelie bring sy eie uitdaging: die manier waarop dit verpak is. So asof foelie iets is wat sóó waardevol is dat dit ten alle koste teen die gebruik daarvan beskerm moet word. Eers moet ’n stuk karton, asook ’n laag deursigtige papier, afgehaal word. En dan kom jy by die groot oopmaakgeheim van rooi pyle met opdragte soos: “trek hier af, lig daar op, skeur na links en regs”.

As ek uiteindelik met hierdie proses klaar is, besluit ek summier dat foelie (dié stukkie wat na my gesukkel nog oor is) so kosbaar is dat ek dit liewer in die kluis moet toesluit!

Troetelpeste kom in allerhande vorms en die verpakking van appels is ’n subtiele voorbeeld hiervan.

Appels word algemeen in 4, 6 of 12 in ’n pakkie gegroepeer. Maar my troetelpes is dat ek nie weet wat ek koop nie! Die pragtige plakker bo-op die pakkies verklaar: ROOI APPELS of GROEN APPELS.

Ag nee wat, ek kan mos sien dis rooi of groen! Wat ek graag wil weet is of die rooies Gala, Fuji of Pienk Lady is. En is die groenes Granny Smith of dalk McIntosh... ens.

’n Mens het mos ’n voorkeur vir sekere soorte vrugte wat in jou smaak val. Beslis nie die wat noodwendig jou geliefkoosde kleur het nie.

Daar is natuurlik ook heelwat ander “universele” troetelpeste wat sekerlik meeste mense se lewens vertroebel, soos:

lees-gestremde motoriste wat so geredelik hulself tuismaak in parkeerplekke wat spesiaal opsy gesit is vir fisiek-gestremde persone;

hysbakryers wat in die deur bly staan om hulle lewensverhale te vertel voordat hulle vaagweg agterkom daar is ander mense wat wil in, uit, of op;

broodbakkers wat slegs klaargesnyde brood verkoop. Daar is tog sekerlik baie gesinne (soos myne) wat “skawagter”-snye bo papier-dun flentertjies brood verkies.

Maar wag, laat ek liewers ophou. Netnou is daar lesers wat kla dat “René se Sê maar net” hulle troetelpes is!

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer