Die prys van 'potensiaal'
Ek is een van daardie mense van wie almal hulle eie prentjie het en ek merk dit elke keer op as ek met een vriend(in) 'n ander iewers raakloop. "Iréne? Is jy seker? Kan nie wees nie," sal een vir die ander sê; waarop die ander sal antwoord dat hulle die reine waarheid praat.
Ek doen dit nie met opset nie, maar ek geniet dit om 'n verkleurmannetjie te wees. Dit is vir my lekker om te weet dat ek by verskillende mense 'n veilige hawe vir die verskillende dele van myself kan hê, maar dat ek steeds vir hulle 'n raaisel sal bly en die mengelmoes-gedagtes steeds my eie bly.
Een ding waaroor ek dink almal van hulle kan saamstem, is dat ek ongelooflik dankbaar en lief is vir my hoërskool-Engelsonderwyseres, juffrou Ronel Louw.
Dit is te danke aan haar dat ek vandag hier is en ooit in myself kon glo. My malligheid sou my lankal ingehaal het as sy nie vir my 'n rede gegee het om die waarde in daardie einste malligheid raak te sien nie. Ek het altyd geglo dit is my voorland om deur die lewe te dwaal sonder enigiets om my eie te noem.
Binne die eerste week in Juffrou Louw se klas het sy my egter mooi laat verstaan dat ek ongelooflike potensiaal het wat ek eenvoudig moet koester. Daardie einste potensiaal het egter met 'n dure prys gepaard gegaan. Sy sou glo nie toelaat dat ek agteroorsit en my potensiaal onbenut laat nie.
Van daar af het my potensiaal my soos 'n bekruiper agtervolg - dit was altyd daar, ek het net nie geweet wanneer die volgende onnie dit sou ophaal nie. Na Juffrou Louw dit egter uitgewys het, was dit asof die ander onderwysers se sesde sintuig ingeskop het. Engelsklas, wiskundeklas, wetenskapklas - in elke klas was dit asof die woorde "sy het potensiaal, maar..." op my voorkop geskryf was.
In my senior-hoërskooljare was dit asof my "potensiaal, maar..." nie meer die onnies in vervoering gehad het soos voorheen nie en ek vir 'n wyle is in vrede gelaat - tot ek begin werk het. Familielede, vriende, base, kollegas; ek was weer ou "potensiaal, maar..." - of so het ek gedink. Skielik was ek "potensiaal, want...". Ek het potensiaal, want ek is hardwerkend; ek het potensiaal, want ek is gewillig; ek het potensiaal, want ek leer graag.
Gelukkig het dit ook nou ook oorgewaai, maar as ek terugdink is ek nie seker my potensiaal was dit werd nie. Die emmer is leeg, my lyf is lam en ek weet nie altyd meer waarvoor ek werk nie. Ek werk maar net omdat werk werk is, en ek het nog altyd gewerk. Ek is nie seker ek het ooit werklik geweet wat ek daardeur wil bereik nie.
Ek dink nie "potensiaal" is noodwendig die gaafste woord wat ons op 'n kind se voorkop kan stempel nie - al is ons bedoelings goed . Potensiaal is soos 'n marathon sonder 'n eindstreep; soos om 'n hamster op sy wielietjie te sit en hom net te laat hardloop totdat hy omkap. Ek weet liefste Juffrou Louw het die beste bedoelings gehad, en ek neem niks anders as my eie potensiaal kwalik nie, maar weet net hierdie: Van potensiaal sal jy dop.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie