Die reuk van reën op dors Afrika-sand
Ek het al heelwat plekke in die wêreld besoek, maar dit is net hier in Afrika waar mense buite toe hardloop wanneer die eerste reëndruppels uit die hemel begin val.
Daardie reuk van reën en die dankbaarheid wat daarmee gepaard gaan in Afrika en veral Namibië, is iets besonders.
Met die reën wat ons die afgelope paar dae ontvang het, het ek net weer eens besef hoe spesiaal dit is. Reën in die buiteland het nie diesefde impak nie. Inteendeel, wanneer dit in die buiteland reën, is mense teleurgesteld. Dit is morbied. Nie hier nie. Hier is dit iets wat van jonk tot oud uit hulle stoele laat opstaan. Selfs ouma sal op die stoep kom staan en met blinkoë kyk hoe die droë sand druppel vir druppel bedek word met water. Sy is dankbaar haar geel gras kry ’n breek van die genadelose Afrika-son.
Kinders en jongmense vat dit selfs ’n paar tree verder as die stoep. Hulle voel die druppels op hul bruingebrande wange en waardeer die wolke wat alles laat afkoel.
Die dankbaarste van almal is natuurlik die boere met ’n gebroke hart wat net ’n bietjie reën kan genees. Saam met die reën kom ook die moed om aan te hou.
Die kinderlike opgewondheid wat selfs die ernstigste volwassene ervaar terwyl hy na die reënmeter loop. Die reënmeter – ons geluk word in milimeter vasgevang.
Ek het in Namibië grootgeword en was naïef genoeg om te dink die reuk van reën – soos ons dit ken – is maar net hoe reën ruik. Dit is nie. Dit is net hier, in Afrika, wat ons bederf word met daardie vars, natuurlike reuk.
Dit is die reuk wat hand aan hand met die reuk van pannekoekdeeg en kaneel gaan.
Dit is ’n reuk wat bo-aan my lys is saam met die reuk van blomme, vars gesnyde gras en ’n sterk pot filterkoffie.
’n Reuk van nostalgie soos my pa se pyptabak en my ma se kerriehoendergereg. ’n Reuk wat my herinner aan kindwees. Op die gras deur die sproeier hardloop, op ’n fiets deur die woonbuurt ry en op ’n kombers onder ’n sterrehemel lê.
Daar is soveel dinge wat Afrika en Namibië spesiaal maak en wat mens nêrens anders kan ervaar nie; ’n oranje-pienk sonsondergang, ’n grondpad met plaashekke, ’n skemerkelkie op ’n rooisandduin.
En natuurlik ’n gebeurtenis – ’n geskenk van God – wat ’n volk buite hulle huise laat staan en met dankbaarheid na die hemel staar.
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie