No Image Caption

Die rooi planeet roep ons

Die wêreld is ’n interessante plek! Daar is alles onder die son te sien, en nóg vele meer.

Ek het myself die afgelope naweek aan die regstreekse uitsending van die 166ste lansering van ’n Falcon 9-vuurpyl verkyk.

Die wêreld se rykste man, Elon Musk, bekend vir sy Tesla elektriese voertuie, is ook die eienaar van Space X, wat weer lewe in mense se reisdrome na die ruimte geblaas het.

Space X se Falcon 9 is die eerste van sy soort wat die ruimte kan bereik en ook hergebruik kan word. Die onderste versterker-gedeelte kan ontkoppel word en ná elke vlug terug aarde toe keer.

Dié vuurpyle het al reeds 126 keer geland en is 105 keer hergebruik om meer vrag weg van die aarde af te lanseer.

Sondag het ’n Falcon 9-vuurpyl nog 53 Starlink-satelliete in ’n lae wentelbaan om die aarde geplaas. Starlink behoort ook aan Musk en poog om die hele wêreld met satelliete aan die internet te verbind.

Sowat 2 900 Starlink-satelliete wentel tot op hede om die planeet. Starlink bied breëband-internet in 36 lande en het honderde duisende gebruikers wêreldwyd.

Wil jy nou meer hê? Ek het gedink die wedloop na die ruimte sou nie in my leeftyd weer so intens raak nie. Ek is te laat vir die vorige stryd tussen Amerika en Rusland gebore en die wedloop om eerste op die maan te land.

Hier vee ek my oë uit en die Tour de Maan is in volle vaart, met China wat met sy Tianwen 1-wenteltuig reeds foto’s van die hele rooi planeet geneem het.

China het verlede jaar aangekondig dat hulle teen 2033 mense op Mars wil sit. Musk het namens Space X gesê die mensdom sal nog binne hierdie dekade op die rooi planeet wees.

Ek was skaars bewus van hierdie verwikkelinge omdat dit nie dikwels in Windhoek se strate bespreek word nie. Hier praat ons nog oor die weer, oor Covid-19, oor die ekonomie en almal se ewige gebrek aan genoeg geld.

Hoekom sal ons nou omgee vir ryk mense en verafgeleë regerings se doendinge? Miskien nie te veel nie.

Nogtans vind ek dit baie interessant en boonop is dit heel waarskynlik dat hierdie gebeure op een of ander tyd ’n invloed op ons daaglikse lewens sal hê.

Net soos die oorlog in die Oekraïne se nagevolge wêreldwyd gevoel word, so kan die wêreld se verbinding tot die internet ook rimpels van verandering laat vloei. Wie weet wat dit sal bring?

Ek dink dit is goed om ’n ogie oor hierdie wêreld van ons te hou, al moet ons noodgedwonge aandag gee aan ons voortbestaan op aarde. Die ruimte wink, en ons kan maar net terug oogknip en met ’n kopskud terugkeer aarde toe, waar ons op een of ander manier sal moet voortbestaan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!