Lanel (Wiesie) Kotzé
Lanel (Wiesie) Kotzé

Die ruimte om vrede te hê

Ek sit gisteroggend by die Eros-lughawe, in die bevoorregte posisie om vir werk te mag vlieg, en wonder waarheen ons almal jaag?

Veral in die lig van die naweek se noodlottige vliegongeluk in die hoofstad. Steeds foeter ons as mensdom voort. Julle sal dalk vra hoekom ek so met die idee van vrede gepla is en eendag sal ek julle my storie vertel, maar nie vandag nie.

Ek het julle laaskeer belowe om ons trekbokse te tel, maar in die harwar van die trekkery kon ek net nie meer kophou nie. My slotsom is dat daar héélwat meer bokse as 143 was en nou moet ons hulle uitpak!

Asseblief, stuur vir my name en addresse van enige welsynsorganisasies waaraan ’n mens voorheen geliefde huisinhoud kan skenk?

Die oumense praat van ’n gejaag na wind. Die Engelse praat van die “rat race”. En ek is vies vir die mensdom wat die lewe as vanselfsprekend aanvaar. Ons is so besig met ons eie dinge dat ons nie eens ’n oomblik neem om stil te staan en die lewe te waardeer nie.

Gesonde kinders word as vanselfsprekend aanvaar en daar word met ’n mens se eie en die kinders se gesondheid in die balans teen ’n hoë spoed voort gefoeter.

So tydjie terug het ek iemand gevra waar die gesin saam sit en eet, en die antwoord was: “Ons sit nie regtig saam en eet nie, almal is so besig met hulle eie programme.”

Dit was nogal hartseer om te hoor. As dit so gaan as die kinders klein is, hoeveel van ’n verhouding sal die gesin met mekaar hê wanneer die kinders groot is en oorsee wil gaan bly?

Selfs my huisgesin het soms rowwe weke, maar as jy nie die tyd maak of kry om saam om ’n tafel te sit so nou en dan nie, waarheen jaag ons dan nou eintlik, en om wat presies te bereik? Ek het iewers gelees dat die Japannese ’n sêding het in die lyn van, “Waarheen jaag jy op so ’n klein eilandjie soos Japan?’

Die Japannese het ’n konsep genaamd “Yutori”. Dit vertaal min or meer na die ruimte om vrede te kan hê. Wanneer alles ’n gejaag is, dan is daar nie genoeg ruimte óf tyd óf kapasiteit vir vrede nie. Het julle al so daaroor gedink?

En hierdie het nie met fisieke ruimte te doen nie, maar geestelike ruimte. Soos die Engelse sê “headspace”. En ek wonder of dit waarvoor of waarheen ons jaag nie dalk ook iets met die vrede te doen het nie.

Waarheen presies jaag ons? Waarvoor jaag ons? Geld, rykdom, aansien, mag? Is dit belangrik? Ja, maar net solank ’n mens leef. Sodra jy jou laaste asem uitgeblaas het, beteken dit niks nie. Dan word jy net onthou as iemand wat altyd baie besig was. Punt.

Skuus, ek dramatiseer vir effek. Maar ja, ek hoop net dat in die groot gejaag na niks dat die regte prioriteite die dryfkrag daarvoor is.

Natuurlik die regte prioriteite volgens my sterk mening. Maar ja, die prioriteite wat ’n langer impak sal hê as die dinge van die “onmiddellike”. Ek hoop hierdie week jaag jy bietjie vrede na.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer