Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

Die storie agter die kruis

Sanet Pearson
Nie te lank gelede nie, het ek julle saamgeneem op ’n herinneringspad na Rosh Pinah. Vandag gaan ons weer terug na daardie klein dorpie, maar hierdie keer kies ek om net een kosbaarheid uit te lig.

Wanneer inwoners van die dorpie ookal in die nag berge se kant toe kyk, dan is die helder verligte, reusagtige kruis halfpad op teen die berg net dáár. Immer teenwoordig, immer sigbaar. Hierdie kruis is sigbaar vanuit elke hoek in die dorp en die ligte daarvan bly selfs aan in die dag. Dis asof die kruis waak oor die dorp, asof alles klein lyk daarteenoor. Veral as jy in jou menswees alleen na aan die voet van die kruis staan en opkyk daarna. Jy en jou probleme is klein in die skadu van die kruis.

Natuurlik is dit dan ook een van die eerste dinge wat ’n vreemdeling binne die stadspoorte van Rosh Pinah opmerk – veral na skemer. Hierdie groot, verligte kruis teen die berg agter die “ou myn”. Vrae skiet mens dan te binne soos voёls, soekend na ’n rusplek vir die nag.

Hoekom is die kruis daar?

Wat is die storie agter die kruis?

Wat beteken dit?

Wie het dit opgesit?

Volgens sommige veterane van Rosh Pinah, kenners, professionele persone – hèt die kruis nie ’n storie nie! Dis dood eenvoudig net die spreiligte van die ou myn wat toevallig die indruk van ’n kruis skep.

Ag nee – wat ’n teleurstelling! Jy is nie so seker of jy dit kan glo nie. Dan delf jy verder en jy ontdek allerhande stories rondom die kruis. Dis glo die graf van ’n baie gelowige man waarop die kruis staan. Of dis opgesit deur een van die gelowige groepe in die dorp . . . Een skof se werkers was in gevaar, toe kom hulle ongedeerd daarvan af – as danksegging is die nuwe spreiligte in die vorm van ’n kruis opgesit. Dan is daar ook diè wat glo dat die kruis lank, lank gelede net een vroegoggend na ’n besonderse donker nag dáár was. Niemand weet wie dit opgerig het nie en die ligte daarvan brand sonder elektrisiteit, sommer net so vanself, deur ’n magiese krag. . .

Daar is nog heelwat van hierdie gissings rondom die kruis, maar kom ons kyk vanuit ’n ander oogpunt na die verligte kruis. Dit is die èèn konstante baken te midde van die vier-seisoene-in-een-dag van Rosh Pinah, van elkeen wat daarna kyk se eiesoortige omstandighede en behoeftes, nood en geluk.

Vir elke unieke individu het die kruis teen die berg ’n ander storie. Daar is stories van ’n ma wat in nood met ’n siek kind in die arms iewers in ’n donker nag na die verligte kruis gekyk het en in gebed gepleit het om haar kind se gesondheid. Sedertdien sal die kruis altyd vir haar ’n baken wees van haar kind se herstel, van haar God se genade.

Soveel mense in ons dorpie, soveel stories sal daar wees. Wat is jou storie oor die kruis?

Kom ons stap hierdie week binne met die beeld van hierdie reusekruis in ons gedagtes – simbolies van wat Jesus se kruis in ons lewens beteken. In die skadu van die kruis lyk alles klein, onbenullig en hanteerbaar. Net die lig en die grootsheid en die genade wat daarvandaan in genade strale elke aspek van ons lewens deurdrenk, maak van ons meer as oorwinnaars. Oorwinnaars te midde van die reuse in ons lewens, want enige reus raak ’n stofkorreltjie in die aangesig van die kruis, van ons Heer van die kruis.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!