Die stories agter woorde
Theresa van Zyl – Aan die einde van laasjaar het ek net weer eens besef dat mense, maak nie saak wat hul ouderdom is nie, ’n behoefte het aan stories.
Daarom het ek besluit om hierdie splinternuwe jaar af te skop met ’n storie – sommer net vir die lekkerte daarvan – ’n storie wat jy so stuk-stuk oor ’n paar maande kan lees.
*****
Ek voel hoe my hare na agter gly toe ek begin rondkyk na waar die klapgeluid vandaan kom. Dit kan omtrent enigiets wees, want die huis is oud en verwaarloos. Dit lyk asof die wind met elke vlaag nog ’n stuk van die eens wit verf gaan laat afdop. Die deurknop is aangeslaan van die klam seelug en daar moet vensters iewers agter al die haasbek hortjies wees. ’n Klim-op-plant verskans die symuur van die huis. Mos groei tussen die plat spoelklippe van die paadjie wat tussen die houthekkie en die voordeur kronkel. Die uitgekerfde seeperd daarop trek my aandag tot iets iewers bokant haar toeklap. Dan sien ek dit.
In die grasdak klap die luike van ’n langwerpige venster teen die raam, elke keer wanneer die wind die palmboom wat daarbo uittroon, laat wieg.
“Irene, kom help my om die kar af te laai?”
“Ek kom, Mamma!”
Toe die sleutel uiteindelik meegee in die slot, kan ek en Ma net staan en kyk na die vertrek voor ons. Alles is vol stof en sand, maar selfs nadat die huis vir soveel jare leeg gestaan het, spoel daar ’n gevoel van lewe teen ons vas. Bont gehekelde komberse is oor die bank en stoele gedrapeer, die meubels het leeupote en die kant voor die vensters is ragfyn. Oor die groot ronde tafel in die een hoek is ’n fyn gehekelde tafeldoek en ’n breë venster-sitplek is met kussings bestrooi. Die kombuis is vol houtkaste en pers geruite, opgebinde gordyne met valletjies en strikke.
“Ek het nie geweet dat Tannie Renchia só ’n storieboek-huis hier in Misty Bay het nie!”
“Dit was Ouma se huis wat ons geërf het, maar dit staan al baie lank leeg.” “Ouma is mos al jare dood, hoekom het ons dan nie al vroeër hierheen gekom nie?”
“Ag, Renchia bly mos al vir lank oorsee en hier is net te veel ou spoke wat. . .”
Ek wag dat Ma haar sin moet voltooi, maar sy doen nie.
Ek voel hoe die opgewondenheid in my bokspring.
“Ons kan mos nou elke vakansie hiernatoe kom en. . . gaan tannie Rensi nou hier kom bly?”
Ek kyk naderhand weg van die houttrommeltjie langs die vensterbank-sitplek toe Ma nie antwoord nie. Dié staan net en staar na die geraamde foto van twee jong meisies wat bokant die kaggel hang.
“Má?”
Dit lyk of sy van iewers ver af terugkom toe sy antwoord.
“Ek glo nie permanent nie, Irene maar beslis vir ’n ruk en dis hoekom ek en jy moet sorg dat die plek leefbaar is teen Vrydag.”
“Gaan ons haar by die lughawe haal?”
“Ja, ek dink nie sy wil die kans vat om met ’n taxi te ry nie.”
Ek gaan staan ook voor die foto bokant die kaggel en praat ingedagte: “Ek wonder of die koerantmense weet sy kom hierheen.”
“Ek hoop nie so nie. Sy sal haar seker bietjie vermom sodat die pers nie weet dat sy in ons land is nie.”
“Wil sy dan kom wegkruip?”
Dit voel asof Ma reg deur my kyk, wat my altyd eerder na sewe as sewentien laat voel.
“Nee, sy wil kom rus, vir ’n slag net weer ’n gewone vrou wees wat kom vakansie hou by die see.”
Ek staan vir ’n ruk net en kyk na die foto en dan weer terug na Ma.
“Ma en Tannie Renchia lyk hier eerder soos ’n tweeling as net gewone susters en julle is ewe mooi ook. Hoekom het Ma nie ook ’n beroemde skryfster en fimster geword nie?”
Ma raak skielik haastig.
“Nou toe, kom Irene, ons kan nie heeldag staan en ginnegaap nie, daar is baie werk wat wag!”
Dis al amper skemeraand, toe Ma uiteindelik die groot, geborduurde voorskoot afhaal wat dit nie heeltemal reggekry het om die stof van haar klere af weg te hou nie. Sy vee haar klam kuif na agter en glimlag moeg.
“Ek dink dis eers genoeg vir een dag. my kind. Ek gaan nou was en vir ons kosmaak. Ek sal jou roep as dit klaar is. . .”
Haar stem draal weg en haar oë fokus op my saam met die vonkel wat haar oë ’n nog helderder groen maak.
“Jy kan maar bietjie gaan verken.”
Ek wonder hoe Ma dit altyd regkry om my gedagtes te lees.
“Hoe het Ma geweet?”
Daar kruip iets soos geheimsinnigheid in Ma se stem.
“O, ek weet baie meer as wat jy dink, Irene!”
– Gasskrywer – [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie