Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Die tyd om gordel vas te maak. . . is hier!

Aloha! Dis sulke tyd!

Oom Jan Uwharrie se trein het met groot geraas ingetrek op Januarie-stasie. Die treintjie is dolleeg met leë bokse vir dié wat moet trek as gevolg van twee maande se agterstallige huurgeld.

Daar is darem ’n roomysbak met bevrore oorskietvleisies vir die basterbrak.

Wat ’n droewige stasie, grafstil met voëls soekend na Krismiskoek-krummels. Iewers krap ’n boemelaar in ’n asblik. ’n Babelaas-werker se stompie skiet innie lug. Dit was sy laaste rookding.

Oom Jan is gevoelloos, droog soos toast!

My minse (mense), hoekom lyk julle beduiweld, verward, nors? Vir wie, vir wat?

Jy haal sommer jou stres uit op die onskuldige Krismisboom en boender dit in ’n swart sak onder die pinebed, balle en engeltjie, die hele blink lot. Bye-bye bling-bling, die donkerte is hier! Jy wil nie ’n goue klok sien nie, want die skoolklok weergalm klaar in jou kop presies soos die outydse boepenswekker met sy twee groot ore.

’n Wrede wakker-word gil.

Druk jou kwaadgeit in jou voorskoot se sak, lig daai lippe op en gaan vee die stoep. Die son skyn gratis, genoeg vitamien D vir almal. Vee die verwyte en watse geite ookal saam met die vullis en gooi weg!

Dis ’n nuwe jaar, ons begin oor.

Ja, lig daai skouers op en weet iewers is ’n erger geval. Doen self ondersoek: jou kwaadgeit is mos oor daai hiepie-hoera-tyd by die see, wetende dat Januarie genadeloos is. Jy het dan geweet die skole heropen.

Jy weet dan die kragmeter het ’n rooi gesig, en die munisipaliteit se “water-af-sit”-mannetjie is uitgerus en fluks aan diens.

My kruidenierekas is ’n gimnastieksaal: alle bottels staan op sy kop! Dieselfde in die badkamerkassie.

Iewers het ek oliesardientjies weggesteek, maar sukkel om te onthou waar... Smaak hulle is vlugtelinge, lê maklik diep onder die wasgoedmandjie.

Lyfroombuisies is oopgesny en kabouter-lyf gegee. Die tandepastabuisie opgerol nek se kant toe en vasgemaak met wasgoedpennetjie. Flenters seep is gesellig in alle kleure en geure in ’n sykous.

Ja nee, ’n boer maak ’n plan, maar ’n hottentot het vyf .... Plan-plooi is soos kouse stop met ’n ou gloeilamp.

Die yskas bibber in sy eie koudgeit, want daar is net vier verdwaalde items binne. Die “deep-freezer” (diemp vries, soos ons Herero’s sê) is ’n mini Antarktika met net oorskiet sakkies ysblokkies van Oujaarsdag whiskey... ’n paar hoendernekkies. Sit net die bleddie ding af, dis krag mors!

Ja, oom Jan Uwharrie voel vir ons soos ’n ma met houttepels.... Julle wil mos nie leer nie!

Terloops, ek’t verneem Oom Jan Uwharrie gaan sy naam verander na Jan Noworry. Dis glo op aandrang van sy jong Ingelse bokkie maar ook om die negatiewe konnektasie te sny. So hopelik gaan Januarie 2025 beter lyk? My minse, dit natuurlik met daadwerklike finansiële beplanning.

Ek kom uit Shoprite met ’n anoreksiek-sak en sien straatkinders wat bakhand staan. My hart vries, want daar is ’n gat in my beurs; wens ek kan houtbrille opsit, wil nie die lyding sien nie.

Loop toe verby Express Credit – dis lyne-lyne mense. Alle gesigte verbouereerd. Lyk soos die staatskliniek waar jy aan die einde van die lyn net kwalifiseer vir “Panado” of daai gunsteling: “Ons sisteem is aflyn, kom môre terug”. Die duiwel is ’n drek-ding sowaar.

Ek’s by Genenis: brood, vis en kraanwater. Geforseerde verslankingsmaand.

Fokus op die flentertjie positiewe want hoe dit ookal sy, Oom Jan se maand is alles behalwe pienk-met-kant.

Koebaai my dom-astrante volk, ek gaan voer die voëls. Sit asseblief die geyser af!

En drink jou water, dis goed vir jou fees-vier lewer.

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!