No Image Caption

Die vloek van goed

Gerhardus van Grootfontein – “Daar is net nie genoeg tyd in die dag nie!” is die krete van soveel van ons.

Werk, kinders, persoonlike admin en dan die gevreesde huistakies. Ek sien die monsters van Openbaring in wasgoed. Daar is golery in skottelgoed: hulle kry kleintjies. Goddelose stof het ’n houvas op my huis. Alles is euwels uit die inferno van huislikheid. In angs en weemoed slaan ek my oë op na die plafon. En toe is daar ’n spinnerak. Geen hulp nie.

My persoonlike blydskap word beïnvloed deur die energie wat ek moet insit om huis te hou. Nee, ek is nie lui nie. Die idee van voltydse “tuisteskepper” is ’n oerkonsep wat ontstaan het toe huishoudings nog met een inkomste kon oorleef het. Dit was dus die tuisteskepper se voltydse werk om huis te hou. Vandag beoordeel ons werkende mense as hulle vloere nie blink nie, of as hulle klere nie gestryk is nie (en hierdie kritiek is baie meer op vrouens as op mans gerig – die vooruitstrewende samelewing wat ons is).

Ek het sedert ek 20 jaar gelede my ouerhuis verlaat het nog nie ’n strykyster besit nie. Dit pla my glad nie. Dit lyk nie asof ek agterstevoorom deur ’n wasgoedmandjie gekruip het nie.

As kind het ons baie by mense gaan tee drink. Ek onthou die tuisgebakte koek en beskuit. Saam met die soetsuur konfyt tussen die twee lae sjokoladekoek, onthou ek glaskaste met ’n weermag van porseleinbeeldjies. Dit is asof daar altyd ’n danser en ’n hondjie tussen die beeldjies moes wees, anders was die versameling onvoltooid. Ek het baie vir my ma gevra hoekom ons dit nie ook kon hê nie. Sy het verduidelik dat dit baie moeite is om skoon te hou. Die stof!

Vandag besef ek dat alles in jou woning soos porseleinbeeldjies is: boeke; breekgoed; fotorame; klere; elektriese drade en-laaiers; medikasie; ens. Besittings bestuur ons lewens. Of jy jou eie huis skoonmaak en of jy iemand in diens het, jou besittings eis geld, tyd of beide.

Ons is slawe van ons omgewings. Ons dra nie alleen skuld aan ons versameling van “goed” wat ons vreugde steel nie. Kapitalistiese stelsels eis dit! Jy moet item een, twee of drie besit om as ’n suksesvolle of ernstige individu geag te word – van ’n motor tot ’n klitser. Selfwaarde word gekoppel aan wat jy besit (jy gaan nou dink “nie vir my nie”, maar glo my dit geld vir ons almal – waar kom jaloesie vandaan?). Dit is hoekom ons opgaar. Ons verbruik baie meer as wat ons gebruik.

In Japan is daar vir die laaste 10 jaar ’n beweging genaamd “die nuwe Japannese minimalisme”. Mense wat meer minimalisties wil leef, raak van tot 95% van al hul besittings ontslae. Hulle trek na klein woonstelletjies toe en het soms net ’n opvoumatras en die broodnodige in hul wonings. Diegene minimaliseer alles! Die vatdoek waarmee hulle skottelgoed afdroog dien ook as ’n handdoek waarmee hulle ’n bad afdroog. Dit klink vreemd, maar dit is ’n baie skoon en funksionele opset, want hulle was alles elke dag – dit is mos net ’n paar goedjies. Tjoeftjaf! Niks hoop op nie. Hierdie minimaliste stel ook voor dat jy nie meer as vyf stelle klere moet hê nie.

Die sielkunde daar agter klink baie bevrydend. Jou tyd is jou eie en jy spaar meer geld. Jy kan werklik fokus op dit wat vir jou belangrik is. Skuldgevoelens van skottelgoed in die wasbak of wasgoed ophang, is verby. Ek stoei nou al vir ’n jaar met die idee van minimalisme en het soort van al begin. Of ek ’n totale Japannese minimalis sal wees, twyfel ek. Tog, moet my ruimte vir my vrede gee. Ek weet nie. Wat dink jy?

– Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 28° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 21° | 38° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 33° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 19° | 33° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 16° | 29° Mbabane: 16° | 27° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 31° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 17° | 22° Durban: 19° | 29° Johannesburg: 16° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 20° | 28° #REF! #REF!