Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Die vrede van ’n slapende kind

Wiesie Kotzé – Hierdie trotse ma wil net graag hierdie staaltjie met julle deel voor dit in die vergetelheid verdwyn.

Ons volg sedert einde laasjaar ’n TV-reeks op DStv genaamd Klein Paradys. Dit is ’n kompetisie waarvoor ses tweepersoonspanne ingeskryf het, waar elke span daarna streef om die binnekant van ’n leë skeepsvraghouer in ’n luukse mikrogaste-eenheid te omskep. Vir my persoonlike smaak is daar ongelukkig te min gesinsvriendelike vermaak op TV beskikbaar. Hierdie het wel min of meer onder “aanvaarbaar” geval.

So loop die opwinding hoog in die huis om te sien wie die prysgeld van R1 miljoen gaan wen. Wanneer jou vierjarige al vra: “Kan ons klein Paddadys kyk, asb?” dan weet jy dat die vervaardigingspan ’n wenresep beet het.

Sonder om weg te gee wie gewen het – sover ons weet was daar geen paddas by die vervaardiging van die reeks betrokke nie.

En so van vierjariges, asook “doen-dit-self-projekte”, gepraat. Ons het die laaste paar jaar aan en af probeer om seuntjie in sy eie bed en in sy eie kamer te laat slaap. Óf die ouers se deursettingsvermoë was net nie op die regte plek nie, óf seuntjie het nog nie kans daarvoor gesien nie.

Die naweek wat verby is, het ons die stapelbed wat al ’n tyd lank in die stoor staan vir hom opgeslaan en ’n bietjie aangepas. Ons het die bed so in die vertrek gedraai dat ’n mens van die bed af in die gang kan inkyk. Voorheen was die bed agter die kamerdeur weggesteek.

Die onderste matras vorm nou ’n knus “grot” waaruit ’n mens deur die oop kamerdeur kan uitmaak waarheen om te gaan as ’n mens in die middel van die nag angstig raak of alleen voel.

Aand een het ons vir veiligheid die tweede matras langs ons bed geplaas. En iewers in die vroeë oggendure was daar ongelukkigheid en toe sluit seuntjie vinnig-vinnig by ons aan op die matras.

Aand twee het ek en hy saam gebid en vir Jesus gevra om gedurende die nag by seuntjie te wees. Dat seuntjie nie sal bang raak wanneer hy wakker word en agterkom dat Pappa of Mamma nie meer langs hom lê nie. Mamma het opgestaan toe sy hoor seuntjie is vas aan die slaap en in haar eie bed gaan verder slaap. Die spaarmatras is dié nag nie gebruik nie.

Wat aand drie betref, wel, ek sal diegene wat wil weet op hoogte moet hou wat gebeur het, want daardie inligting was nog uitstaande teen my spertyd.

Behalwe dat seuntjie intussen ’n bietjie ouer is as met ons vorige pogings, het ons die bed se rigting verander. Ons het doelbewus en spesifiek vir die saak gebid, en die onderste matras voel bietjie soos ’n veilige grot.

Ek was van plan om allerhande ligte aan te los en toe besef ek vinnig dat hy gewoond daaraan is om sonder enige ligte te slaap. Aangeskakelde ligte sal hom net verder uit die nodige slaap hou. Al wat sy behoefte is, is om te weet dat ons naby is. Wanneer hy aan die slaap raak en in die nag sou hy na ons soek.

Dit het my laat dink dat ons as volwassenes ook, wanneer ons gespanne is, of bang is, of bekommerd is oor iets, voor ons gaan slaap, dit moet oorgee in die hande van die een wat alles weet.

Ons moet na Hom in Sy woord gaan soek en toelaat dat Sy woord ons geestelik soos ’n veilige grot omring. En as ons tyd saam met hom deurbring voordat ons gaan slaap, weet ons onbewustelik ook dat hy naby is wanneer ons slaap.

Ek hoop, bid en glo dat hierdie resep wanneer julle weer gaan slaap vir ’n paar lesers van waarde kan wees. Stuur gerus kommentaar!

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer