Dis (nie) 'n hondelewe (nie)
Troeteldiere en hul eienaars deel baie van dieselfde eienskappe, sê die ooms met die wit jasse.
Ja, ek is uit en uit ’n hondenooi, maar nee, ek grawe nie plante uit hul potte en vreet dit met wortel en tak op nie en piepie ook nie in stroomsirkeltjies as ek opgewonde raak nie. Laasgenoemde is seker wel ’n besprekingspunt in die oorgangsjare, maar ons praat hier van hondetewe. Dis ook die vinnigste wat ek jou van ’n Kerskaartjielys afhaal as jy nie van honde of diere hou nie. Dat troeteldiereienaars soms/dikwels soos hul eienaars daarna uitsien en persoonlikheidstrekke deel, is ’n feit wat immers ook al in die feitetydskrif, Huisgenoot, herhaal is. Met die oudste in ons huis ’n Basset met ’n naam gekies uit ’n Deon Meyer-roman, is dit veral dié tyd van die jaar en in sinustyd moeilik om tussen my en hom te onderskei wat hang, verlepte oë en ore betref. Die verskynsel van gedeelde persoonlikheidstrekke kan verduidelik word deur die gedeelde ervarings tussen mense en hul diere, sê die slimmes. Of deur die eenvoudige feit dat mense aangetrek word tot diere wat hulle voel weerspieël hulself.
’n Sielkundige verbonde aan die Universiteit van Texas, Sam Gosling, het in ’n aanlyn opname probeer vasstel wat is die karaktereienskappe van mense wat hulself as honde- of dan kattemense beskou. Gebaseer op die persoonlikheidstoetse van byna 5 000 deelnemers, moes hy erken daar is inderdaad ’n verskil tussen die katmens en die hondemens. Laasgenoemde is meer ekstroverte, werk graag saam in ’n span, is empaties en bedagsaam. Katmense is glo meer neuroties, toon weinig belangstelling in ander en was meer manipulerend. Laasgenoemde is egter baie meer avontuurlustig en onkonvensioneel.
Nog was die studies se einde niet en dr. Stanley Coren besluit om sy eie navorsing te doen oor die sosiale neigings van troeteldiereienaars. Volgens Coren was die algemene patroon van die studie dat hondemense meer sosiaal, interaktief en ondersteunend is, terwyl kateienaars meer introverte is wat minder sosiaal en meer beheers optree. By die Michigan-universiteit het die eienaars van 1 600 honde, ingesluit 50 verskillende rasse, hul eie persoonlikhede sowel as die persoonlikhede en gedrag van hul honde gedeel. Hier is bevind honde se persoonlikhede verander met die tyd en word beïnvloed deur hul leefstyl en hul ervarings soos hul ouer word.
Ook is ons en ons honde se persoonlikhede dikwels ’n spieëlbeeld van mekaar. Honde wat angstig en aggressief is, het dikwels ’n eienaar wat negatiewe eienskappe toon, terwyl aktiewe en vriendelike honde eienaars het wat op dieselfde manier optree.
Volgens die skrywer van die studie is dit moontlik dat mense honde kies wat by hul leefstyle pas of dat mense en honde se persoonlikhede mettertyd ineenvloei as gevolg van gedeelde leefstyle.
Dit is egter die eienaars van visse as troeteldiere wat volgens dié studie die gelukkigste is, dié met honde is die meeste pret om saam mee te wees, kateienaars is emosioneel-sensitief en jy kan op hulle staatmaak, terwyl dié met reptiele die onafhanklikste is. Dan is daar nog bevindinge wat beweer hondemense verdien ’n hoër gemiddelde inkomste waarvan ’n ruim gedeelte bestee word aan bykomstighede vir hul troeteldiere (nié die skrywer nie), is twee keer meer geneig om in finansies te werk (beslis nie die skrywer nie) en is drie keer aantrekliker as die eienaars van katte (nou daaroor kan ons gesels).
Of jy nou ’n kat, hond, muis, vis of slang in jou persoonlike ruimte toelaat en troetel, goed vir jou! Die lewe is immers net soveel beter en voller met hulle deel daarvan!
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie