No Image Caption

Dis tyd om vir mekaar op te staan

Iréne-Mari van der Walt
Dit maak nie saak hoeveel keer ek myself probeer vertel dat ek in murg en been ’n Namibiër is nie, kan ek nie die Suid-Afrikaner in my eenvoudig vergeet nie.

Een vakgebied wat hierdie blindekol keer op keer aan my uitwys, is my gebrekkige kennis van die Namibiese geskiedenis.

Dis juis die geskiedenis wat my warm onder die kraag kry wanneer Suid-Afrikaners aanvoer dat Namibië eintlik maar net Suid-Afrika se kleinboet is. Dis hoegenaamd nie so nie – ons kom van heel verskillende agtergronde af; hoe sal ons ooit dieselfde kan wees?

Dit maak my ietwat skaam dat ek nie altyd kan verduidelik hoe Namibië se geskiedenis van Suid-Afrika s’n verskil nie, en ek moet my berus by die feit dat ek eenvoudig net in een of ander donker hoekie van my brein wéét dit is anders.

My gebrek aan insig word gereeld opnuut onder my aandag gebring deur die mees geskiedkundige vorm van rekordhouding – stories.

Onlangs by ’n teateropvoering oor die geskiedenis van die Topnaars was ek te skaam om enigiets ná die vertoning te sê tot die vroue in die groep saam met wie ek die opvoering gaan kyk het ook verduidelik het dat hulle nooit geweet het dat die Topnaars eens op ’n tyd kusbewoners was nie.

Toe vra iemand my: “Het jy die Namas met die wit lap op hul hoede gesien?”

Namas? Ek dog dan dis Afrikaners daai. Hulle het gepraat van Afrikaners. Nee, word daar vir my vertel, hulle het verwys na Jan Jonker Afrikaner – dit was Namas daai.

Gits, al wat ek weet van die Namas is dat hulle bevolkingsyfers ook deur die 1908-volksmoord deurgeloop het. Ek het nog altyd Namibiese geskiedenis in die konteks van Duitsland geleer.

Ons het elke jaar op hoërskool van die volksmoord geleer en wat daartoe aanleiding gegee het. Ons het geleer van die beeste wat gevat is, die inentings wat weerhou is, die volksmoord, dit wat daarna gekom het en toe uiteindelik ’n hoofstuk oor Suid-Afrika met ’n paar sinne oor apartheid en ’n paragraaf oor die bloedbad by Windhoek.

Vra my nou waar in Windhoek was dit. Ek weet nie.

Daar word seker elke dag oor daardie stukkie erf geloop sonder dat iemand dit weet – dalk lê daar sigaretstompies en selfs ou kondome. Dit is hoe dit met ons geskiedenis gaan – ons is skaam om te sê dat ons voorheen leed aangedoen is en nog meer om te erken dat dit ons eie voorouers was.

Ek dink nie dit is die onafhanklikheid wat Namibiërs wou hê nie. Die mooi in Namibië was nog altyd in sy mense met hulle kleurvolle kulturele drag en die verskillende tale, verskillende klanke en verskillende tradisies.

Ek dink nie die vryheidsvegters of selfs mense soos Nelson Mandela het ooit gedroom dat ons ná apartheid almal van ons kultuur en tradisies gestroop sou word nie.

Ek dink die visie was dat die Afrikaners en die Jan Jonker-Afrikaners, soos die res, mekaar in die oë kon kyk en sê, “hier is jy; ek hoor jou, ek sien jou, ek ken jou”.

Hoe leer ons mekaar ken? Hoe maak ek my stem dik vir dit wat vir die Topnaars en die Namas belangrik is as ek nie weet wat vir hulle belangrik is nie?

Dit is tyd om van Namibiërs te leer. Dis tyd om vir mekaar op te staan. Ek wens net hulle het my op hoërskool al geleer hoe om vir jou op te staan.

Leer my hoe om vir jou op te staan, al moet jy dit skree. Ek wil jou ken en ek wil vir jou opstaan.

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!