Tanja Bause
Tanja Bause

Doen volgende jaar iets vir iemand anders

Tanja Bause
So is nog ’n jaar op sy rug en dalk is daar mense wat nou al hul gedagtes laat gaan het oor hul Nuwejaarsvoornemens.

Ek het al. Ek het besluit ek wil volgende jaar elke tweede maand of dalk meer in ’n sopkombuis uithelp. Ek wil aartappels skil en wortels sny. Sop kook en uitdeel, en agterna help om die skottelgoed te was.

Ek het ook besluit dit is nie goed genoeg om net my tyd te gee nie. Ek sal ’n sak aartappels en wortels saamvat, want dalk kry ’n paar ekstra kinders kos.

Ek was al talle male by sopkombuise en die mense wat die plekke bestuur moet ongelukkig realisties en streng wees. Dit is onmoontlik om vir al die kinders kos te kan gee.

Dus as jy nie by die sopkombuis geregistreer is nie, kry jy nie kos nie. Jy sal buite die heining agter ’n geslote hek staan en na binne kyk waar al die maatjies sit en eet.

Jy sal hoop dat daar dalk ’n bord of twee oorbly en die sopkombuis se tannie na die hek geloop kom en ’n paar kinders laat inkom. Dan begin jy hoop dat jy onder diegene is wat dalk nog gelukkig is en toegelaat word. As jy nie is nie en die hek word voor jou toegemaak, dan begin jy weer hoop dat daar dalk nog iewers ’n bord uitgekrap kan word. Dalk kan die tannies die pot silwerskoon krap en dan kry jy nog ’n skeppie.

Maar soos die minute verbygaan verdof jou hoop om ietsie in jou maag te kry.

Dan sien jy ’n klein meisie wat bietjie kos in haar kosblik oorgelos het om huis toe te vat waar haar boeties en sussies wag. Jy sien hoe sy oppak en hek toe kom. Nou het jy een van twee keuses. Jy kan haar kosblik afvat, jy is immers groter en sterker, en haar kos opeet. Of jy kan saam met haar huis toe stap en keer dat ander kinders haar agtervolg.

Dit is ongelukkig die realiteit van talle van die kinders wat afhanklik van ’n sopkombuis is.

Dus het ek besluit as ek ’n sak aartappels en wortels saam na die sopkombuis neem, kan ons ’n paar borde sop meer opdis en ’n paar kinders van buite af laat inkom.

Jy sien ons almal sukkel en herstel nog van eerstens die pandemie, toe die oorlog en die brandstofprys en wat ook nog al.

Niemand kry behoorlike verhogings weens die swak ekonomie nie en ons kan nie met ons geld uitkom weens die hoër pryse van brandstof tot noodsaaklikhede nie. Ek gaan minder op vakansie en langnaweke is ek ook maar met Jan Tuisbly se karretjie.

Ek het nog steeds kos op my tafel en ’n dak oor my kop. Die N$100 vir aartappels en wortels gaan my rêrig nie armer maak nie, maar dit kan ’n kind se maag vol maak.

Vir my is die gevoel in elk geval onskatbaar om die wêreld vir iemand vir een dag beter te kan maak.

Dink net aan die verskil wat ons volgende jaar in honderde honger kinders se lewens kan maak as ons almal – soos ons finansies dit toelaat – ’n sak aartappels, uie of botterskorsies koop.

Diegene wat oorsee of meer as een keer per jaar met vakansie gaan, kan dalk twee sakke van iets elke tweede maand skenk.

Jy kan terwyl jy jou volgende vakansie met jou voete in die sand sit of op ’n inkopietog in ’n groot stad iewers in die wêreld is, aan die kinders met glimlagte, blink ogies en vol mae dink.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer