Dol op so ’n dollar!
Sê maar net 30 jaar gelede
Theo Gurirab
’n Man kan binne ’n dag ’n miljoenêr word en dieselfde dag nog in ’n kerkmuis verander.
Dit is ’n gevolgtrekking waartoe ek gekom het ná my besoek aan ’n paar Afrika-lande ’n paar maande gelede.
Op die Internasionale Lughawe Lusaka in Zambië het ek verlede jaar in September R45, tans N$45, gewissel en eensklaps die gevoel gekry dat ek ’n miljoenêr is. Want wat ek in ruil vir my geldjies by die wisseltoonbank gekry het, was 7 860 kwacha!
Ek was eers oortuig daarvan dat ek diefstal gepleeg het – dis al manier waarop ek soveel geld kon kry! Nadat ek by ’n ander ou uit Suid-Afrika verneem het dat ek onskuldig is, het ek besluit om soveel geld as moontlik te wissel, want ek het nog nooit voorheen soveel geld op een slag in my sak gevoel nie.
’n Paar minute daarna het ek ’n pakkie Peter Stuyvesant gekoop, een van die twee sigaretsoorte in Zambië wat aan ons Namibiërs bekend is. Toe ek die prys vra, het ek my egter byna boeglam geskrik, want ek moes ’n paar duisend kwacha armer met my sigarette van die toonbank wegstap.
Omdat ek so groot geskrik het vir die verskriklike som geld wat ek moes opdok, het ek die man wat my by die lughawe kom afhaal het, gevra wat ’n gebruikte motor in dié land dan kos. Ek het ampertjies op my rug geval, want die bedrag wat hy aan my genoem het, was in die omgewing van 20 miljoen kwacha.
Toe my gids die snaakse uitdrukking op my arme gesig sien, het hy my iets nog snaakser vertel.
“As dit vir jou na ’n astronomiese bedrag klink, wat gaan van jou arme siel word as jy in Zaïre ’n draai gaan maak?” wou hy weet.
“Daar is een kwacha gelyk aan duisend Zaïre!”
“Ons geld is darem iets werd,” het hy half vererg bygevoeg.
“In Zaïre moet jy ’n kardoes vol geld saamneem as jy een brood wil gaan koop.”
Verbeel jou nou net! As jy dus ’n nuwe motor in Zaïre wil koop, moet jy seker ’n vragmotor huur om jou geld to by die motorhandelaar te bring. Die mense daar moet ook seker baie goed met syfers wees. En geduldig daarby! Veral die bankklerke wat miljoene der miljoene daagliks hanteer.
Terug in Namibië het ek hieroor nagedink en tot die slotsom gekom dat daar duisende miljoenêrs in Afrika-lande is, maar dat selfs miljoenêrs verskil. Dis moeilik om miljoenêrs uit Namibië, Angola, Suid-Afrika, Botswana en al die ander Afrika-lande met mekaar te vergelyk al is hulle almal die ouens met die vet beursies. Want daar is “vet” en daar is “rêrig vet”!
Vir ouens soos ek wat baie daarvan hou om in die sogenaamde “limelight” te beweeg, is lande soos Zaïre, Angola en Zambië net die regte plekke, want hier in Namibië kan ’n ou soos ek nie kers vashou met byvoorbeeld die ouens wat vir hulle ’n plekkie in die staatsdiens losgeslaan het nie. Hulle het geen sorge nie, want hul GRN-voertuie is altyd vol brandstof. En met dié het hulle dan ook geen probleem daarmee om ’n mooi meisie of twee se voete onder hulle uit te slaan nie. Wat sulke gewillige wiele darem nie vir ’n man se beeld kan doen nie! Diegene wat nou nie so gelukkig is nie, maar tog wil voel hoe dit voel om ’n miljoenêr te wees, moet maar net R5 000 na sekere Afrika-lande saamneem.
Met dit sal jy jou kan omring met die mooiste asters. Wat jou natuurlik dalk ook in ’n hospitaal of die graf kan laat beland.
– 1 Februarie 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie