Doodstres is die mensdom se voorland
Ons praat deesdae baie oor “quiet-quitting”. Dit is wanneer werknemers eenvoudig net doen wat van hulle verwag word binne hul werksure en stiptelik om 17:00 opstaan en huis toe gaan.
Hierdie konsep is vir my, en blykbaar baie ander mense ook, absoluut belaglik. Veral die feit dat iemand wat hulle wettige verpligting teenoor ’n maatskappy nakom nou skielik die antagoniste van ons samelewing geword het, is vir my ’n skreiende skande.
Ek is bevrees die dag het uiteindelik aangebreek dat ons as ’n samelewing nou lewe om te werk, maar volgens my hoort dit andersom. Noem my maar ’n hippie, maar ek glo vas ons is gemaak om die reuk van veldblommetjies in te asem en om nog net 10 minute lank ons vierpootkinders vas te hou voor ons opstaan. Ons is gemaak om tevrede te wees. Ek dink nie die beste oomblikke in ons lewens gaan ons voor ’n rekenaarskerm in ’n bedrywige kantoor vind nie.
Geluk wag in ou kieterkat se gepurr wanneer hy jou oorreed om nog net ’n paar minute by hom te bly. Dit wag in die slapie wat jy vang ná ’n lang dag op die strand en dit wag in die oomblikke by ’n musiekkonsert wanneer jy na jou liefste vriendinne kyk en nie die mooi in hulle raaksien nie, maar die menslikheid. Wanneer jy nie anders kan as om bevoorreg te voel dat jy tot die lagplooitjies om hul oë bygedra het nie.
Ek het nog altyd geglo dat die mens sy eie ondergang gaan beteken. In ons soeke na onverkrygbare sukses gaan ons onsself nog doodwerk.
As jy nog nie die kloutjie by die oor gebring het nie, hierdie is wat gebeur wanneer meer as ons wettige verpligting die norm word. Jannie staan kop en skouers bo sy kollegas uit – sy bevordering, en die gepaardgaande salarisaanpassing, wink vir hom juis omdat hy die ekstra myl stap. Skielik word daar nie gewens nie, maar verwag dat Jannie se eweknieë ook die ekstra myl moet draf, want as Jannie dit kan doen, kan almal mos.
Gevolglik moet Jannie nou nog harder swoeg, want hy het nie verniet so hard gewerk nie – hy soek steeds daardie bevordering. Dan skuif die mylpaal weer en Jannie moet nog harder vir daardie bevordering werk.
Kyk hoe hard werk Jannie nou, almal moet sy pas volhou – en skielik skuif die mylpaal weer. ’n Paar het seker al besluit om van dié bus af te klim, so nou moet die dapper soldate wat oorbly net sorg dat dinge gedoen word – jy moet skouer aan die wiel sit om jou werk te behou.
Skielik werk Jannie 12 uur-skofte om net alles gedoen te kry en verskuif die fokus van ’n bevordering na oorlewing. Kieterkat se 15 minute is lank vergete, want hemel daar is werk om te doen!
Skielik lewe Jannie om te werk, eerder as vir die sagte aromas van die veld of die warmte van ’n kleine lyfie op ’n Woensdagoggend.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie