Dosis onbekend
René Hugo – Ek het onlangs ’n brief, afkomstig van ’n groot veeartsenypraktyk, gelees. Dit was gerig aan ’n moedelose boer wat sy geliefde hond na die veearts gebring het.
Wat verstaanbaar was in die brief was “Geagte Eienaar“, “u Labrador” en “vriendelike groete”. Die res van die twee bladsye was propvol belangrike inligting, ongelukkig uitgedruk in ’n onverstaanbare “veeartseny-dialek”.
’n Soortgelyke situasie speel hom gereeld af as my huisdokter vir my nuwe medikasie gee. Soos dit ’n verstandige gebruiker van medikasie betaam – sien, ek wil ingelig wees! – lees ek die ingeslote brosjure sorgvuldig deur.
Weer eens verstaan ek (en ek glo ook baie ander gebruikers) ewe min daarvan.
Die vraag wat vervaardigers van medisyne behoort te kan beantwoord, is: Vir wie word die inligtingsbrosjure, (waarskynlik teen groot koste), opgestel? Sekerlik nie vir die dokter nie, want dit is feite wat hy behoort te ken. Dus moet dit inligting wees wat die GEBRUIKER behoort te kry.
Indien dit so is, liewe medisynevervaardigers, lig my in! Moenie my verwar, verstom en aan my eie intelligensie laat twyfel nie. Gebruik asseblief duidelike, verstaanbare taal sodat ek die medisyne met insig en kennis kan hanteer.
Afgesien van die taal, is die brosjure op sigself ’n hopelose manier om inligting oor te dra. Die vervaardigers van medisyne waarsku gewoonlik die verbruiker, op die buitekant van die boksie/bottel: “As u inligting oor die produk EN VERAL OOR DIE DOSIS DAARVAN wil hê, lees die ingeslote brosjure.” Besef hulle nie dat hierdie brosjure ’n los stukkie papier is wat maklik wegraak of uit frustrasie weggegooi word nie? Uiteindelik sit meeste gebruikers met vele pilboksies in hul medisynekas, sonder enige idee van hoe om dit te gebruik.
Medisyneprodusente is nie die enigste sondebokke nie. Daar is ongelukkig baie sulke verstommende pogings tot inligtingverskaffing wat uiteindelik oorgaan in verwarring, onsekerheid en selfs woede!
Ek is ’n kieskeurige verbruiker en weet dat dit belangrik is om seker te maak dat die kos wat ek koop minder as 5% vet per 100 ml porsie bevat. Dat dit nie deurspek is met waardelose kleur- en smaaktoevoegings nie, nie allergie-ontlokkende stowwe bevat nie en ook nie die verkeerde cholesterol sal aktiveer nie.
Ek probeer om seker hiervan te maak, maar dit lyk amper na ’n onmoontlike taak. . .
Verbruikersinligting word wel meestal op die verpakking van kos aangebring. Ongelukkig word dit aangebied in die kleinste moontlike letter grootte en dikwels teen ’n gekleurde of selfs prentjie-besige agtergrond. Pragtig kleurvol – maar slegs leesbaar vir adolessente met jong vryersoë en vlieëniers met 20/20-visie.
Die res van ons het ’n multifokale bril of vergrootglas nodig (asook dubbel die tyd wat normaalweg vir inkopies opsy gesit word) om te verseker dat ons wel ingelig is.
Nog is die einde nie! Soos ek ouer word, is dit al hoe nodiger om gereeld ’n anti-plooiroompie, ’n oogverjongingsjel en ’n rimpelvuller te koop. Ek is puntenerig en weet dat dit belangrik is om met die regte ammunisie teen die ouderdom te veg.
Maar ek kan nie. Die wát en hoé van hierdie rome en jellies word in mikroskopies-klein lettertjies, op elegante houers aangebring En gewoonlik word dit in goud- of silwerkleurige skrif gedruk, wat die elegansie verhoog en die oordrag van inligting dienooreenkomstig vervaag.
Ek is ’n versigtige en nuuskierige verbruiker wat poog om ingelig te bly. Maar ek (en Jan Alleman?) het albei tot die slotsom gekom dat die moderne verskaffers van inligting onlogies, onprakties en ONINGELIG is.
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie