Dot-kommers en djoe tjoepers

Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua - Klink na oorlog... dit het so begin:

Die een oomblik was ek ‘n vaardige tikster... en booom!! Hier word kompers kom aflewer. Die slim mannetjies konnek die affêre, vertel jou vinnige stories. Dis ‘n geklik, oopmaak, toemaak en onbekende woorde. Ek sit daar soos ‘n biduurtannie van Berseba, verbouereerd.

Mense, dit was vir my trauma. Eerstens het ek die geraas van my tikmasjien gemis, dié stil masjien was vir my te onderduims. Boonop moes my vet vingers (wat ken van handwasgoed van jongs af) minder kragtig wees, want die masjien is delikaat. Ek was letterlik ‘n eend in ballerina-skoentjies!!

Die grootste ontdekking was dat die knap kits madam hoogs Engels is. Later ontdek ek sy maak spelfoute reg. Aitsa, wat ‘n fraai juffertjie! En so het ek die nuweling begin liefkry. Tot die dag toe ek moes cut & paste.... Eto, daar’s ek weer in trurat. Ek ken dan net vir knip en plak ...met die hand... per sker en gom. Maar dag na dag het my pad met madam komper minder klippies gehad.

En op ‘n dag sak die gewone rekenaar se aanteelsels toe - netso, kaboem! Dit was nie ‘n stadige aankoms met ‘n flits en tjoekepak-treintjie nie. Nee, prinses Internet kom skop ewe arrogant die faksmasjien by die venster uit. Ja, netso, want die uwe het gekom met haar eie onpeuterbare venster, die fabelagtige Windows.

Tippex was intussen net ‘n sinlose wit vloeistof. Het sekerlik ‘n support groep in ’n stationary kamer begin om hulle voor te berei oor hul lot - die uitroei-bedrogspul ná soveel jare van produktiwiteit.

My mense, dié juffertjie is hoogs vrugbaar. Kort voor lank skenk sy geboorte aan Google. Die kjeent ken alles. Jy soek net en sy gee, baie vrygewige Amerikaanse klimmeidjie. Sy‘s lywig en kompak: ‘n woordeboek, ‘n aardbol, sterrewag, resepteboek, medici, wetlike aspekte – in kort ‘n elektroniese ensiklopedia.

Daai is nog niks, die kitskennis-interaksie prinses se volk verbreed teen ‘n spoed. Sy het ‘n spesiale woord vir haar kitsgeit – megabytes.

Op ‘n dag kom niggie YouTube en Tiktok. En omdat ek lank vat met dié soort van ding, was dit weereens nag want die kleinkinders praat skielik ‘n vreemde taal. Ek raak oornag ‘n alien op my eie werf. Skaars dié onder die knie gekry en daar verskyn Cloud sommer so uit die lug net soos ‘n wolk. Ek kan my maar net indink hoe my ontslape dr. Jan Spies die hele konsternasie sou beskryf - “my kind, ons is in ‘n ding. Kry ‘n nippie brandewyn laat my kop koers kry. En my snuifblik.” Nog met die potlood agter sy oor.

So van die os op die jas. Ek wil mos alle selfone in my nommer 42 bra versteek om die laerskool-kleinkinders se vingers rus te gun. En ek’s dan ‘n geselsmens. Het dan selfs ‘n vergrootglas sodat ons insekte kan betrag.

Toe ek die ander dag praat van “hoertjoep” (‘n kras Suide Afrikaanse stelling vir veelwywery), was my kleinseun opgewonde want sy Yaya ken ook van YouTube. Aweh, die hippie zalie...(as hy maar net kon weet.)

Ek speel maar skilpad as hulle slimgeit my bo-oor, trek voorlopig kop in, maar gaan lees later op en so kom ek stadig by. Ek moet nog Cloud toe styg.

Onlangs was Facebook in ‘n blits koma. Was madam Meta bloot opsetlik om die bedorwe mensdom tuin toe te forseer?

In my digterskop het konining Meta malmuis gespeel sonder vrees dat die kuberkonings haar sal afdank. Of altemit was dit ‘n bespreekte besluit. Hulle het seker gerus cookies gaan eet op hul eie Cloud, heel jollig op Spotify en nog met ‘n fotosessie vir Instagram.

Terloops, het julle gesien Meta se logo lyk soos daai kinderswembrille, maar eintlik is dit die infinity simbool.

Wat sê dit? Ons is vas, inkatrol in die internasionale webwerf. Daar’s slaggate, geleenthede vir die kuberskurke. Maar die positiewe sy is die vinnige besigheidsbedryf, sonder om jou kamer in ‘n snyerspak te verlaat, ons lewe klop deur ons vingerpunte. En as jy artritis vingers het, praat jy met jou rekenaar of foon.

Die ou pêrre is gelukkig al wit bene, want vir hulle was ‘n net vir visvang en surfing ‘n waaghalsige watersport.

En soos ‘n ou skoolmaat gesê het “ons word gedoplet” ( intensiewe dophou).Sjuuuut, kom ek skinner – koningin Meta is met die lyf, daar kom nog ... - gasskrywer

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!