Draadwerk met tande
Sê maar net 30 jaar gelede
Gert Jacobie – Nadat ek in Desember amper oor die silwer riviere getrek het weens ’n tandpyn wat tot nog toe onbekend is aan die Aanklaer, het die tyd seker nou aangebreek om die tandbesigheid finaal uit te stryk.
Maar ai, die moed ontbreek.
Dit is baie toevallig dat die kiestand wat vir al my sorge verantwoordelik was, nou só rustig is soos ’n babatjie wat met ’n vars doek en melkbottel lê en slaap.
Die dag op pad na Swakopmund het die tand hier in Windhoek al gejeuk en algaande erger begin word, tot op Swakopmund, waar ek naeltjies, vars én in olievorm, gebyt en gedrink het asof dit moedersmelk was.
Die anderdagmôre het ’n jong, maar bedrewe tandarts my kakebeen stewig in sy hande geneem en die mees onmiddellike sorge aangespreek deur die sogenaamde abses in die tandvleis rondom die gewraakte tand te probeer dreineer en deur ’n goeie ou Engelse gelling antibiotika in my mond te stort. (Praat van die storting van kernafval!)
In alle geval, ’n dag of ses later was alles oënskynlik in orde met my mond.
Intussen het my tandarts in Windhoek laat weet ek moet oorkom dat sy haar martelingswerk kan afhandel en dit is net hier waar die probleme ontstaan.
Ek kan skaars glo dat ek en sy elke keer kan ooreenkom oor wanneer daar finaal aan my tand gewerk moet word en hoe daar dan iets voorval.
Dit is nou al die derde keer dat ek die afspraak moes uitstel.
Elke keer is daar ’n skitterende rede daarvoor. Ek moes my bankbestuurder spreek, ek moes die sekretaris-generaal van die VVO te woord staan en ek moes al as bemiddelaar in die Angolese stryd probeer optree.
Maar bang is ek nie. Nie vir ’n tandarts nie.
Vreemd genoeg, wanneer ek vra dat die afspraak uitgestel moet word, is die tand perfek en sodra ek weet ek sal die tandarts eers oor ’n paar dae sien, begin die tand lastig raak. Moet my nie vra hoe dit werk nie, want ek weet nie.
Tande bly maar ’n moeilike saak en behalwe vir vroumense en skoonouers is dit die ding wat die maklikste vrees by groot manne inboesem. Ek sê weer: dit is nie dat ek vir ’n tandarts bang is nie – ek praat maar net van feite.
My suster se suigeling-seun het twee snaakse tandjies in sy mond en toe iemand voorstel dat hy op sy jong ouderdom na ’n tandarts gesleep word vir ’n behandeling, het ek gevoel dit is nie die regte ding om te doen nie. Hy sal in tyd deur natuurlike prosesse van die twee tandjies ontslae raak en hy sal gelukkig nie vir die res van sy lewe ’n onnodige vrees vir tandartse hê nie.
Die kinders op laerskool kan hom ook maar oor die twee tandjies spot. Dalk ontaard hy in ’n goeie bokser voordat hy ses is.
Die ander moontlikheid is dat ’n beter boksertjie as hy dalk namens hom van die twee voortandjies ontslae sal raak en dan is hy darem net vir dié outjie bang en nie vir die vriendelike oom of tannie by die tandarts nie.
Tandartse is nie aardige mense nie – net hul metodes is vir my onaanvaarbaar.
Ek hoop nie my tandarts lees iets verkeerds tussen die lyne van dié rubriek nie.
– 26 Januarie 1993

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie