Des Erasmus
Des Erasmus

Drama van die absurde

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Des Erasmus – Snaakse goed gebeur op ’n somersaand op Swakopmund. Nou nie die plasse reënwater wat daar in die omgewing van die Rössingberg ’n staanplek in die vreemde soek nie.

Nee, die drama van die absurde is nie op die spyskaart nie, maar speel hom by die hoektafel van ’n restaurant af.

Daar’s plek vir vier, maar ’n middeljarige man sit alleen. In die vol eetplek is dit nie drie vermorste plekke in ’n vol vertrek nie, want sy paaie is ver en sy geselskap baie.

Miskien die dat die vele gaste met skouerloere in sy rigting kyk om voor hulle uit te ruk wanneer hulle sy halwe oë vang.

Voor hom brand ’n boepens-kers se vlammetjie flou. Dit hoort so, want Tino Rossi se stem blaas hom net effens waar hy in die flouerige lig meevoer met sy Somewhere in France.

Kinders verklap soms grootmensgeheime. Seker dié dat die tweetjies op pa se verjaardagete sonder vertoon die nekke in die rigting van die hoek draai. Met hul kyk- en draaislag bots hempsmoue met die oorgroeide roomysbakke voor hulle.

’n Servet val op die grond.

Langsaan sit ’n jong man en vrou in diep gesprek. Soms lyk dit of die borde voor hulle maar koud kan word solank hul liefde in mekaar se houdings brand. Hul taal is vreemd. Hul doetjies sê waaroor die storie gaan.

Toe die eerste bedryf.

’n Kelnerin kom aangedraf, neem ’n bestelling wat blykbaar reeds op pad uitgewerk is en stap weer aan. Nou kom die eienares tussen die hompe kos en klompe mense deur, trek ’n stoel by die eenmanstafel uit en begin gesels. Weer draai die koppe. Weer draai die volume van die gesprekke af. Toe staan sy op, swaai ’n rooi doek met ’n geoefende hand oor haar skouer en stap daar weg.

Hy’s weer alleen, maar elke keer soek sy oë in ’n deur wat leeg bly. Om sy mondhoeke speel ’n ietsie wat wys dat ook hy die raaisel van die restaurant geniet, maar die antwoord ken.

Nou haal ou enkeling ’n blou gerfie papier uit ’n handtas en begin stadig lees. Hy vat dit so stukkie vir stukkie en kyk tussendeur sommer teen ’n verste muur waar nie ’n versiersel, ’n portret of skildery hang nie.

Dis sommer ’n staar na niks. Op straat steek selfs verbygangers voor die venster vas, frons, beduie en stap dan aan.

“Moet seker maar verlange wees. . .”

Uiteindelik word daar langsaan geëet, so stadig dat die hoofgereg die bakkie sop inhaal. Rys, vleis en aartappels – sommer boerekos op bestelling. Nou staan die man op, want twee meisies draai skouers om by die deur in te kom en reg op sy tafel af te stap. Hulle kom sit te maklik, maar bestel niks. Praat net.

Dan haal die man geld uit ’n swart beursie. “Kry solank die goedjies, ons sien mekaar later.”

Hy sê dit moedswillig hard.

Die meisies staan op, stoot die stoele versigtig terug, maar hou dan vol: “Nee, nee, so loop ons nie.”

Hulle luister egter na ’n sagte beduie deur die man se agterhand. “Belowe,” sê-vra die een. “Belowe,” sê die ander.

En ek beloof.

Want ek het my Swakop-dogter en haar vriendin, Audrey, lanklaas gesien.

En nou het ons tog ’n onderwerp sou die geselskap later die aand minder word.

Het iemand dalk anders gedink? – 29 Maart 1993

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!