Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

Drome verander alles, al verander niks

Theresa van Zyl
Ons is op ’n drafstap 2023 binne met jubelende kerkklokke, vuurwerke, toeters sover as wat jy ry of bly. . . En nou trek ons alreeds stewig op pad na die einde van die tweede maand, die sewende week en die een-en-vyftigste dag van hierdie jaar. . .

Mag ek vra – wat het van jou Nuwejaarsvoorneme geword? En durf ek selfs verder as dit gaan en jou vra om net ’n paar oomblikke te vergeet van jou whatsapps, jou selfoon, jou emails, jou sosiale media? Alles wat elke oomblik van jou wakker-wees ure luid en aanmekaar aandring op tyd en aandag en terugvoering en reaksie, alles en elkeen wat jou soms laat voel om net ’n klein glip-kansie te vat om die oorweldiging van jou lewe te ontsnap. Vir ’n uur, ’n aand, selfs ’n dag?

Hoekom? Hoekom vra ek jou om net vir ’n rukkie iewers tot stilstand te kom en dit terwyl tyd geld is en die ratte van die lewe net aanhou met draai, ongeag wie waar afval of aan ’n los speek hang? Ek vra jou om jou uiterlike immer-aan-die gang mens net fisies tot stilstand te dwing. Nie op ’n groot, ontwrigtende manier nie. Op ’n manier waarvan net jý bewus sal wees. Kry byvoorbeeld ’n koppie koffie en drink dit sonder om terselftertyd ook op jou selfoon besig te wees. Wees wérklik teenwoordig in die oomblik. Drink alles in met elkeen van jou sintuie. Net dit. Dis al. Wéés net vir ’n slag. Wees net jý wat besig is met jóú.

Weereens die vraag – hoekom? Want net jý kan by jou ware self uitkom. Net jy weet wat werklik in jou kop aangaan, watter leemtes of verlangens of hunkerings al lankal in jou hart gaan lê het soos ’n swaar, plat klip op ’n polletjie gras. Net jy het toegang tot daardie drome wat jy diep binne in jou siel gaan bêre het omdat die elkedagse bestaan van jou lewe basies onversoenbaar staan teenoor die droom wat gebore is in jou jeugdige siel toe alles nog moontlik was en nie eens sterre te ver was nie.

Hulle was net vensters van die hemel wat snags oopgegooi is, sodat die helder lig van jou droomwêreld daardeur kon skitter tot by jou. By jou waar jy fisies op die aarde was, maar jou siel was nie vasgevang in ’n dodelike roetine of onmoontlikhede nie. Jou drome was die suurstof vir jou siel, die energie wat jou gedryf het tot hoogtes wat net elke keer oortref kon word. Jou eendag – wanneer jy groot is, wanneer jy uit die skool is, wanneer jy klaar geleer het, wanneer jy jou eerste kar het, wanneer jy . . . wanneer jy . . . wanneer jy . . . En hoe meer “wanneers” opgebou het soos digte stene in ’n muur, hoe minder sterre het sigbaar geword in die naghemel van jou drome.

Ja, jy’s reg. Ek gaan dit weer vra . . . Hoekom? Jou drome is wat jou jý maak. ’n Jy wat nie gedupliseer of veronderstel is om in so veel rigtings tegelyk getrek te word nie. Jy is jou drome, jou drome is geanker in jou talente en die uitleef daarvan is wat ’n verskil in jou lewe en dié van ander gaan maak. En dít is ten diepste my en jou skeppingsdoel. Onthou – daar gaan nooit ’n perfekte tyd wees nie. Moenie wag nie, tel weer jou droom op, stof hom af en begin jou droom lééf. Een tree op ’n slag, hou net aan om aan te hou.

Hoekom? Want jou droom verander alles, al verander niks . . . – Gasskrywer

[email protected]

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-01-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 18° | 31° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 16° | 24° Omaruru: 18° | 25° Windhoek: 18° | 24° Gobabis: 20° | 30° Henties Bay: 18° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 21° Rehoboth: 19° | 26° Mariental: 20° | 29° Keetmanshoop: 21° | 27° Aranos: 21° | 31° Lüderitz: 17° | 25° Ariamsvlei: 23° | 31° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 19° | 31° Maseru: 19° | 31° Antananarivo: 16° | 30° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 24° | 38° Windhoek: 18° | 24° Cape Town: 18° | 25° Durban: 24° | 35° Johannesburg: 19° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 20° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!